Die Woord is gees…is water…is die bloed

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

1Jn 5:8 ….daar is drie wat getuig op die aarde: die gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.

Waarna word verwys as dit noem dat hierdie “drie”,  naamlik “die gees en die water en die bloed”, “eenstemmig” is op die aarde? En waaroor en met wie stem hulle saam?

Hierdie belangrike vrae en die antwoorde op hierdie vrae word weggesteek vir meeste mense want die afvalliges het hul aandag afgelei om eerder te konsentreer op die volgende woorde wat in meeste manuskripte van die Nuwe Testament NIE voorkom nie, vir baie goeie redes:

1Jn 5:7 Want daar is drie wat getuig in die hemel: die Vader, die Woord en die Heilige Gees, en hierdie drie is een;

Vir baie wat glo in ‘n valse “drie-eenheid” is hierdie vers 7 een van die groot bewyse dat God uit drie persone bestaan. Maar vir hulle wat die waarheid ken, is dit baie duidelik dat hierdie vers 7 nie eens deel is van die konteks en bedoeling van al Johannes se woorde hier in hoofstuk 5 van hierdie brief nie. As ons verder lees in 1Johannes 5 sal ons eintlik sien wat die oorspronklike konteks regtig op konsentreer, al het ons nie toegang tot die oorspronklike Nuwe Testamentiese boeke of manuskripte nie. Johannes het glad nie eens geglo in ‘n drie-enige god nie, want Johannes het die waarheid van God geken. Johannes het net soos Paulus en al die apostels geglo dat….

1Kor 8:6 ….daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Kyk weer na vers 8 en kyk wat is die kernpunt….

1Jn 5:8 en daar is drie wat getuig op die aarde: die gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.

Hier staan dat hierdie “drie”, dit is die gees, die water en die bloed, is eenstemmig…”getuig” saam….op die aarde. Die onderwerp hier is tog duidelik, naamlik “GETUIENIS”. Dit gaan alles oor saam “getuig” . Kom ons lees verder want die konteks maak dit al hoe duideliker, vir die wie dit kan sien. Kom ons lees vers 8 nou saam met verse 9 tot 12. Kyk hoeveel keer die woorde “getuig” en “getuienis” voorkom…

1Jn 5:8 en daar is drie wat getuig op die aarde: die Gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.

1Jn 5:9-12 As ons die getuienis van die mense aanneem—die getuienis van God is groter, omdat dit die getuienis is van God wat Hy aangaande sy Seun getuig het. Wie in die Seun van God glo, het die getuienis in homself. Hy wat God nie glo nie, het Hom tot leuenaar gemaak, omdat hy die getuienis nie geglo het wat God aangaande sy Seun getuig het nie. En dit is die getuienis: dat God ons die ewige lewe gegee het, en dié lewe is in sy Seun. Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.

Die woord “getuig” kom drie keer voor in die genoemde verse!

Die woord “getuienis” kom nie minder as ses keer voor!

Dit gaan alles oor die getuienis van die Vader oor Sy Seun, Jesus Christus!

Die woord “Seun” word hier nie minder as 6 keer genoem in verse 9 tot 12 wat dan die gedeelte wat dit voorafgaan belig!

Daar is niks in die verse 9 tot 12 oor ‘n sogenaamde derde persoon in die Godheid nie.

Die “eenstemmig[heid]” gaan oor die “getuienis” van die Vader oor Sy Seun, Jesus Christus! Niks anders nie! Omdat die afvalliges nie die Vader of Sy Seun ken nie, moet hulle Skrifte verdraai en selfs met vertalings en manuskripte peuter om hul valse leerstellings in te forseer:

Joh 8:19 Hulle sê toe vir Hom: Waar is u Vader? Jesus antwoord: Julle ken My nie en ook nie my Vader nie; as julle My geken het, sou julle ook my Vader geken het.

Joh 14:7 As julle My geken het, sou julle my Vader ook geken het, en van nou af ken julle Hom en het julle Hom gesien.

As die Vader en die Seun nie in jou hemel getuig wie Hulle is nie, sal hulle ook nie op jou aarde ‘n getuie wees nie want hulle woon dan nie in jou nie. Dit is waarom die afvalliges ‘n derde persoon in die tekste wil inlees asof God en Sy Seun nie self heilig is, en nie self gees is nie:

Joh 14:23 Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.

Joh 4:24 God is Gees; en die wat Hom aanbid, moet in gees en waarheid aanbid.

Joh 16:13-15 Maar wanneer Hy gekom het, die Gees van die waarheid, sal Hy julle in die hele waarheid lei; want Hy sal nie uit Homself spreek nie, maar alles wat Hy hoor, sal Hy spreek en die toekomstige dinge aan julle verkondig. 14 Hy sal My verheerlik, omdat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig. 15 Alles wat die Vader het, is myne; daarom het Ek gesê dat Hy dit sal neem uit wat aan My behoort, en aan julle verkondig.

Die Seun het die vleeslike liggaam wat Hy ontvang het met Sy geboorte deur Maria net vir ‘n tyd lank beklee voordat Hy na sy kruisdood uit die dood opgestaan het en in gees terug ontvang was deur die Vader en nou, saam met die Vader, in diegene kom woon wat Sy Woorde aanvaar — “in gees en waarheid”!

Joh 1:14 En die Woord het vlees geword en het onder ons gewoon—en ons het sy heerlikheid aanskou, ‘n heerlikheid soos van die Eniggeborene wat van die Vader kom—vol van genade en waarheid.

Wie kan die woorde van Jesus verstaan? Dit is baie min wat Hy uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld:

Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Efes 1:3-4 Geseënd is die God en Vader van onse Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus, 4 soos Hy ons in Hom uitverkies het voor die grondlegging van die wêreld om heilig en sonder gebrek voor Hom in liefde te wees.

Die Woord is van Genesis tot Openbaring “eenstemmig” oor die Vader en Sy Seun. Hier is “die drie” wat “eenstemmig” is…. “die gees en die water en die bloed” soos in 1Johannes 5 tereg verduidelik word.

1Jn 5:8 en daar is drie wat getuig op die aardedie gees en die water en die bloed, en die drie is eenstemmig.

Kom ons kyk wie die drie is…soos deur die Skrifte uitgewys – nie deur menslike spekulasie of byvoegings nie:

“die gees…”

Joh 6:63 Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

“die water…”

Efes 5:26 om dit te heilig, nadat Hy dit gereinig het met die waterbad deur die woord.

Joh 4:13-14 Jesus antwoord en sê vir haar: Elkeen wat van hierdie water drink, sal weer dors kry; 14 maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

“die bloed…”

1Pe 1:2 uitverkore volgens die voorkennis van God die Vader, in die heiligmaking van die gees, tot gehoorsaamheid en besprenkeling met die bloed van Jesus Christus: Mag genade en vrede vir julle vermenigvuldig word!

1Pe 1:18-19 omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie, 19 maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van ‘n lam sonder gebrek en vlekkeloos.

Die drie het almal betrekking op EEN en DIESELFDE PERSOON…Jesus Christus as die lewende WOORD van die Vader.  Die Woord is gees…is water…is die bloed wat ons nou ervaar, wat ons nou heilig, reinig en nou losmaak van sonde hier op aarde. Dit is God se getuienis aan ons oor wat die Seun doen:

Joh 15:3 Julle is alreeds rein deur die woord wat Ek tot julle gespreek het.

Psa 119:160 Die hele inhoud van u woord is waarheid, en al u regverdige verordeninge is tot in ewigheid.

God stuur aan die afvalliges ‘n dwaalgees om leuens te glo en selfs tekste te vervals en in te druk waar dit nooit was nie:

2Th 2:11 En daarom sal God hulle die krag van die dwaling stuur, om die leuen te glo,

As God vir iemand ‘n dwaalgees stuur kan niemand daardie persoon oortuig van die waarheid nie, al staan dit ook voor die persoon se gesig in swart op wit. Mens se blindheid is van God:

Eks 4:11 En die HERE antwoord hom: Wie het vir die mens die mond gemaak, of wie maak stom of doof, of siende of blind? Is dit nie Ek, die HERE, nie?

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.