‘Alles behoort aan julle’ – Die wêreld (Deel 3)

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Inleiding

Ons is almal aanvanklik onder die beheer van ons aardse drange en behoeftes, en ons hanteer God se dinge ook op dieselfde manier – volgens ons aardse maatstawe. Ons is net soos die gemeentelede in Korinthe in die tyd van die apostel Paulus, waar sommige van hulle hom baie ontstel het en hy hulle ernstig moes bestraf…

1Kor 3:1-3  En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.  2  Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,  3  omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?

Om vleeslik te wees is inherent aan ons almal, maar ons moet leer om ons vleeslikheid af te sterf as ons die geestelike koninkryk van God wil ingaan. Vlees en alle aardse dinge is immers van verbygaande aard!

1Kor 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Paulus het die volgende waarhede aan die lede daar in Korinthe gegee om hulle te help om die groter prent te sien, en hierdie woorde is net so relevant vandag as destyds:

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Paulus noem dat die gelowiges in Korinthe moet leer uit alles wat God aan hulle toevertrou, dit sluit in mense sowel as omstandighede. Paulus waarsku ook egter dat hierdie dinge deur die Skrifte aan ons verduidelik word, nie deur ons persoonlike interpretasies nie:

1Kor 4:6  Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

Ons ervaringe met mense en die dinge rondom ons word deur die Skrifte na ons gebring en deur die Skrifte alleen sien ons die ware les in dit alles. Jesus noem dit as volg aan duiwel wat Jesus kom versoek het om op aardse dinge te fokus:

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Alles in hierdie lewe kom deur God na ons toe, en alles wat neergeskryf is in die Skrifte leer ons van ons eie lewe. Dit sluit in…

  • die lewe en ervaring wat Paulus self deurgegaan het is uiters leersaam,
  • so ook die lewe en ervaringe van Apollos,
  • net so is die lewe en ervaringe van Céfas (Simon Petrus) belangrik om van kennis te neem,
  • ook leer mens van die wêreld waarin mens geplaas word,
  • mens leer wat die lewe in sy hele omvang behels,
  • mens leer deur die dood,
  • mens leer uit die teenswoordige dinge,
  • mens leer dat die toekomstige dinge ook aan elkeen behoort.

Ons hanteer elkeen van hierdie aspekte in hierdie studiereeks, soos God die openbaring aan elkeen gee deur Sy Woord. Ons het reeds gesels oor hoe die lewe en ervaringe van Paulus, Apollos en Céfas aan die gemeente daar in Korinthe behoort het, en ook aan ons behoort, by die volgende skakels:

Die lewe van Paulus (Deel 1Deel 2Deel 3Deel 4Deel 5Deel 6Deel 7Deel 8)

Die lewe van Apollos

Die lewe van Céfas (Deel 1Deel 2Deel 3Deel 4Deel 5Deel 6)

Hoe behoort die wêreld aan ons?

Die apostel Johannes noem die volgende dinge wat in die wêreld is, en hoe ons “die wêreld” kan identifiseer…

1Jn 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  17  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Drie dinge staan uit in “die wêreld” en ons moet leer hieruit dat dit alles inherent aan onsself is, maar dat dit alles ook van verbygaande aard is!

  • die begeerlikheid van die vlees
  • die begeerlikheid van die oë
  • die grootsheid van die lewe

Interessant om op te let, is dat hierdie drie dinge ook in Adam en Eva se harte was nog voor hulle oortree het, voordat hulle geëet het van die verbode vrugte. Kyk net hier wat het Eva ervaar in haar denke voordat sy uitgereik het om te pluk van die verbode boom se vrugte en ook aan Adam gegee het:

Gen 3:6  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet [“die begeerlikheid van die vlees”] en dat hy ‘n lus was vir die oë [“die begeerlikheid van die oë”], ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry [“die grootsheid van die lewe”]; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Hierdie dinge van die wêreld was reeds in hulle met hulle skepping. God het die mens geskape met hierdie dinge van die wêreld reeds binne-in hulle. Die mens was dus nie ‘n perfekte geestelike wese nie en hulle het nie God se volmaaktheid geken nie. Die mens was in vlees geskep en onvolmaak! Die aardse “pot” het misluk “in die hand van die Pottebakker”, soos Hy dit gemaak en laat voortleef het. Die volgende woorde van die profeet Jeremia was gerig aan die volk van Israel, maar is direk van toepassing op elke mens wat in die eerste “pot” se beeld geskep word:

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Ons sien dat Satan ook vir Jesus deur hierdie drie versoekings probeer vang het, maar Jesus het geweet hoe om Satan te weerstaan. Ons leer dan ook uit Jesus se voorbeeld hoe ons self hierdie bose verleier en die wêreld kan oorwin – deur die Woord van God.

Mat 4:3-10  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.  4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.  5  Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan  6  en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.  7  Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.  8  Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,  9  en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.  10  Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Die Woord van God (“daar is geskrywe”) is die enigste wapen teen die verleier, en dit is duidelik dat Adam en Eva nie toegerus was met hierdie verdediging nie. Hulle was nie toegerus met die volle wapenrusting van God nie!

Efes 6:11-17  Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.  12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.  13  Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.  14  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,  15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.  16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.  17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—

Ons kyk in hierdie studie na die begeerlikheid van die oë, want die boom van kennis van goed en kwaad is tot vandag net so begeerlik en ‘n “lus vir die oë” soos Adam en Eva ook ervaar het. Die natuurlike mens het tot vandag nie die volle wapenrusting van God nie. Die boom van kennis van goed en kwaad verteenwoordig ons eie vlees en sy hart se insigte en oortuigings wat gebaseer is op ‘n natuurlike vleeslike fondasie wat nie God se geestelike dinge kan verstaan nie:

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Die begeerlikheid van die oë

Die Woord van God het twee toepassings, naamlik die letterlike toepassing en geestelike toepassing, en elkeen van hierdie twee is werksaam in ons lewens op die tyd soos God daarvoor bepaal het. Paulus noem in die volgende vers dat “die letter” gekoppel is aan dit wat die dood verteenwoordig, en “die gees” van die Woord is dit wat aan die lewe van Christus gekoppel is:

2Kor 3:6  wat ons ook bekwaam gemaak het as dienaars van ‘n nuwe testament, nie van die letter nie, maar van die gees; want die letter maak dood, maar die gees maak lewend.

Die letterlike aspek van die Woord het betrekking op die vleeslike (uiterlike) interpretasie van die Woord, wat totaal verskil van die geestelike (innerlike) interpretasie van die Woord. Jesus stel hierdie verskil baie duidelik in die volgende woorde:

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Vir die letterlike (uiterlike) toepassing van die woorde “die begeerlikheid van die oë” is dit verwysend na die dinge wat ons met ons fisiese oë sien, byvoorbeeld om na mooi dinge aangetrokke te voel, en om baie geld te hê waarmee ons baie besittings kan koop en mense na ons kan lok – in kort kom dit neer op ons natuurlike geneigdheid tot materialisme en vleeslike genot.

Eks 20:17  Jy mag nie jou naaste se huis begeer nie; jy mag nie jou naaste se vrou begeer nie, of sy dienskneg of sy diensmaagd, of sy os of sy esel of iets wat van jou naaste is nie.

Die dinge wat die wet van die vlees ons verbied om te doen, wys eintlik uit dat hierdie dinge in ons vlees teenwoordig is, en deur die regte versoeking sal dit na vore gebring word…

Rom 3:19-20  Nou weet ons dat alles wat die wet sê, hy dit sê vir die wat onder die wet is, sodat elke mond gestop en die hele wêreld voor God doemwaardig kan wees;  20  aangesien uit die werke van die wet geen vlees voor Hom geregverdig sal word nie, want deur die wet is die kennis van sonde.

Daar is ook die dieper geestelike betekenis in die konsep van “begeerlikhede van die oë” wat toepassing het op ons innerlike mens. Die “oë” het te doen met ons insigte. Ons almal word geskep met ‘n neiging tot natuurlike dinge en daarom is ons denke inherent gefokus op die aardse dinge. Ons aardse mens kyk na die uiterlike dinge en ons word beindruk deur aardse groothede, soos Samuel ook aanvanklik deur sy eie siening mislei was toe hy ‘n nuwe koning van Israel moes salf, en hierdie les moes leer dat God kyk nie na wat mens kyk nie, maar na die hart:

1Sa 16:6-7  Toe hulle inkom en hy Elíab sien, dink hy: Gewis, hier staan voor die HERE sy gesalfde!  7  Maar die HERE sê vir Samuel: Kyk nie na sy voorkoms en sy hoë gestalte nie, want Ek ag hom te gering. Want nie wat die méns sien, sien God nie; want die mens sien aan wat voor oë is, maar die HERE sien die hart aan.

Elíab, die oudste seun van Isai [Hebreeus “ı̂yshay” = “Jesse” in Engels] met sy groot en indrukwekkende fisiese gestalte was nie God se keuse nie. Dawid was God se keuse, maar Dawid was nie eens ingeroep om voor Samuel te verskyn nie:

1Sa 16:8-13  Toe roep Isai Abinádab en laat hom voor Samuel verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die HERE ook nie uitgekies nie.  9  Verder het Isai Samma laat verbygaan. Maar hy sê: Hierdie een het die HERE ook nie uitgekies nie.  10  So het Isai dan sy sewe seuns voor Samuel laat verbygaan, maar Samuel het aan Isai gesê: Die HERE het hulle nie uitgekies nie.  11  Verder het Samuel aan Isai ][Hebreeus “ı̂yshay” = “Jesse” in Engels] gevra: Is dit al die seuns? En hy sê: Die kleinste is nog oor, en kyk, hy pas skape op. Toe sê Samuel aan Isai: Stuur en laat hom haal, want ons mag nie om die tafel gaan sit voordat hy hier kom nie.  12  Daarop het hy gestuur en hom laat kom; en hy was rooierig, met mooi oë en ‘n mooi voorkoms. En die HERE sê: Staan op, salf hom, want dit is hy.  13  Samuel neem toe die horing met olie en salf hom te midde van sy broers, en die Gees van die HERE het van dié dag af en verder oor Dawid vaardig geword. En Samuel het klaargemaak en na Rama gegaan.

God se geestelike dinge, en Sy keuses en manier van dinge doen is nie aanvaarbaar vir ons aardse vleeslike denke nie. Selfs koning Saul, die eerste koning van Israel, kon nie sien hoe ‘n jong Dawid kans kon sien vir die reus Goliat toe Saul en sy troepe, insluitend die groter en ouer broers van Dawid, nie kans gesien het om Goliat aan te vat nie:

1Sa 17:32-33  En Dawid het aan Saul gesê: Laat die manne se moed tog nie ter wille van hom sink nie. U dienaar sal gaan en teen hierdie Filistyn veg.  33  Maar Saul het Dawid geantwoord: Jy kan nie na hierdie Filistyn gaan om teen hom te veg nie, want jy is ‘n seun, en hy is ‘n krygsman van sy jeug af.

Selfs Elíab (Dawid se oudste broer) was weereens nie baie opgemaak met Dawid se teenwoordigheid op die vegterrein nie, nog minder het hy van Dawid se houding gehou. Die vleeslike oë en die gepaardgaande aardse insigte van die natuurlike mens sien die uitverkorenes van God se geloof as vermetel en boos.

1Sa 17:28  Toe sy oudste broer Elíab hom met die manne hoor spreek, het Elíab baie kwaad geword vir Dawid en gesê: Waarom het jy eintlik afgekom, en aan wie het jy daardie klompie kleinvee in die woestyn afgegee? Ek ken jou vermetelheid en die boosheid van jou hart, want jy het afgekom om die geveg te sien.

Ons dink ook aan die verslag wat tien van die twaalf verkenners aan Moses gebring het nadat hulle die beloofde land verken het:

Num 13:27-29  En hulle het hom vertel en gesê: Ons het gekom in die land waarheen u ons gestuur het; en waarlik, dit loop oor van melk en heuning, en dít is sy vrugte.  28  Maar die volk wat in die land woon, is sterk, en die stede is versterk en baie groot; en ons het daar ook die kinders van die Enakiete gesien.  29  Die Amalekiete woon in die Suidland, maar die Hetiete en Jebusiete en Amoriete woon in die gebergte, en die Kanaäniete woon by die see en aan die kant van die Jordaan.

Num 13:31-33  …Ons kan nie teen die volk optrek nie, want hulle is sterker as ons.  32  So het hulle dan slegte gerugte onder die kinders van Israel versprei oor die land wat hulle verken het, deur te sê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n land wat sy inwoners verteer; en al die mense wat ons daarin gesien het, is groot manne.  33  Ons het daar ook die reuse gesien, die kinders van Enak, van die reuse afkomstig; en ons was soos sprinkane in ons oë; so was ons ook in hulle oë.

Die twee ander verkenners, Kaleb en Josua, het ‘n totale ander verslag aan Moses gebring:

Num 13:30  Toe het Kaleb die volk stil gemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig.

Num 14:6-9  En Josua, die seun van Nun, en Kaleb, die seun van Jefúnne, twee van die wat die land verken het, het hulle klere geskeur  7  en die hele vergadering van die kinders van Israel toegespreek en gesê: Die land wat ons deurgetrek het om dit te verken, is ‘n buitengewoon goeie land.  8  As die HERE ‘n welbehae in ons het, sal Hy ons in hierdie land inbring en dit aan ons gee, ‘n land wat oorloop van melk en heuning.  9  Wees net nie teen die HERE opstandig nie, en wees julle nie bevrees vir die volk van die land nie, want hulle is ons spys. Hulle beskutting het van hulle gewyk, en die HERE is met ons. Wees nie bevrees vir hulle nie!

Die Skrifte sê openlik dat Kaleb (en Josua) van ‘n “ander gees” was as wat in die tien ander verkenners was:

Num 14:24  Maar my kneg Kaleb, omdat ‘n ander gees in hom was en hy volhard het om My te volg—hom sal Ek bring in die land waarin hy gekom het, en sy geslag sal dit in besit neem.

Die getal tien is geestelik verwysend na die vlees en sy insigte, soos ons dan ook in hierdie Skrifgedeelte kan sien. Die getal tien verwys na die dinge van die wêreld en dit laat mens fokus op aardse dinge, en die begeerlikheid van die oë is ‘n leidende faktor in die verband. Ons aardse dier (die mens van sonde – 2Thes 2:2-3) het inderdaad tien horings wat die mens se lewe regeer (onder God se beheer). Tydens die beheer van hierdie aardse “dier” fokus die mens op die uiterlike dinge. Ons aardse lewe word simbolies beskryf as “een uur”, of ook as ‘n “damp” wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn, volgens in die Skrifte:

Open 13:1  En ek het ‘n dier uit die see sien opkom met sewe koppe en tien horings, en op sy horings tien krone en op sy koppe ‘n naam van godslastering.

Open 17:12  En die tien horings wat jy gesien het, is tien konings wat nog geen koningskap ontvang het nie, maar hulle ontvang mag soos konings een uur lank saam met die dier.

Jak 4:14  julle wat nie eens weet wat môre sal gebeur nie. Want hoedanig is julle lewe? Dit is tog maar ‘n damp wat vir ‘n kort tydjie verskyn en daarna verdwyn.

Die getal twee daarenteen is geestelik verwysend na die getuies van Christus wat insigte in God se geestelike dinge geskenk word. Hulle fokus is op die innerlike geestelike dinge van God, en dit is wat Josua en Kaleb vir ons verteenwoordig:

Heb 12:1  Daarom dan, terwyl ons so ‘n groot wolk van getuies rondom ons het, laat ons ook elke las aflê en die sonde wat ons so maklik omring, en met volharding die wedloop loop wat voor ons lê,

Die volk was egter meer oortuig deur die verslag van die meerderheid, die tien verkenners se verslag. Hulle wou Kaleb en Josua om die lewe bring. Die vlees word gelei deur die meerderheidstem, soos ons vandag nog sien:

Num 14:10-12  Toe sê die hele vergadering dat hulle gestenig moet word.

God se Woord is eintlik die meerderheidstem, maar die vlees aanvaar dit nie. Daarom sal die vlees op die einde van die dag uitgeroei word…

Num 14:10-12 …Maar die heerlikheid van die HERE het in die tent van samekoms verskyn voor al die kinders van Israel.  11  Daarop het die HERE aan Moses gesê: Hoe lank sal hierdie volk My verag? En hoe lank sal hulle in My nie glo nie, ondanks al die tekens wat Ek onder hulle gedoen het?  12  Ek sal hulle met die pes tref en hulle uitroei; en Ek sal jou ‘n groter en sterker nasie maak as hulle.

Almal wie in Christus opgeneem word, glo die Woord en verslag van God en Sy getuies. Hulle is die “min” wat God aanneem want hulle het die meerderstem van God aan hulle kant. God se kinders in Christus is inderdaad die “min” wat God uitverkies het om te heers oor alle vlees.

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

Dit is hulle wie nie oordeel volgens die vlees nie, en ook nie op die uiterlike dinge fokus nie, want hulle het die “ander gees” wat nie met die wêreld saamstem nie. Hulle oordeel nie volgens dit wat die “oë” sien nie, maar dit wat die gees van God (dit is Sy Woord) aan hulle meedeel:

2Kor 5:16  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.

1Kor 2:15-16  Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.  16  Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

  • Wanneer die wêreld fokus op ‘n aardse tempel en daaroor verslag op verslag gee, dan sien die getuies van Christus die ware tempel…

Mat 24:1-2  En Jesus het uitgegaan en van die tempel vertrek, en sy dissipels het nader gekom om Hom die geboue van die tempel te wys.  2  En Jesus sê vir hulle: Sien julle al hierdie dinge? Voorwaar Ek sê vir julle, daar sal hier sekerlik nie een klip op die ander gelaat word, wat nie afgebreek sal word nie.

1Kor 3:16-17  Weet julle nie dat julle ‘n tempel van God is en die Gees van God in julle woon nie?  17  As iemand die tempel van God skend, sal God hom skend; want die tempel van God is heilig, en dit is julle.

  • Wanneer die wêreld fokus op uiterlike oorloë en verdrukkings, dan sien die getuies van Christus die oorlog in hul eie hart en die oorwinning van Christus oor hul eie vleeslike insigte:

Mat 24:6-14  En julle sal hoor van oorloë en gerugte van oorloë. Pas op, moenie verskrik word nie, want alles moet plaasvind, maar dit is nog nie die einde nie.  7  Want die een nasie sal teen die ander opstaan en die een koninkryk teen die ander; en daar sal hongersnode wees en pessiektes en aardbewings op verskillende plekke.  8  Maar al hierdie dinge is ‘n begin van die smarte.  9  Dan sal hulle jul aan verdrukking oorgee en julle doodmaak; en julle sal deur al die nasies gehaat word ter wille van my Naam.  10  En dan sal baie tot struikel gebring word en mekaar verraai en mekaar haat.  11  En baie valse profete sal opstaan en baie mense mislei.  12  En omdat die ongeregtigheid vermeerder word, sal die liefde van die meeste verkoel.  13  Maar wie volhard tot die einde toe, hy sal gered word.  14  En hierdie evangelie van die koninkryk sal verkondig word in die hele wêreld tot ‘n getuienis vir al die nasies; en dan sal die einde kom.

1Pe 4:12-14  Geliefdes, verbaas julle nie oor die vuurgloed van vervolging onder julle wat tot julle beproewing dien, asof iets vreemds oor julle kom nie;  13  maar namate julle gemeenskap het aan die lyde van Christus, moet julle bly wees, sodat julle ook by die openbaring van sy heerlikheid met blydskap kan jubel.  14  As julle beledig word oor die Naam van Christus, is julle gelukkig, omdat die Gees van die heerlikheid en van God op julle rus. Wat hulle betref, word Hy wel gelaster; maar wat julle betref, word Hy verheerlik.

  • Wanneer die wêreld die dinge van Christus op ‘n aardse vlak beoordeel, dan leer die gees van God die getuies van Christus om gees met gees te vergelyk (Skrif met Skrif – om nie buite dit wat geskryf is te dink nie – 1Kor 4:6), en nie die vleeslike met die geestelike te vergelyk nie:

1Kor 2:9-13  maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  10  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.  11  Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.  12  Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.  13  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

  • Wanneer die wêreld fokus op ‘n uiterlike wêreldregering (en ‘n sogenaamde wêreldse “alluminati” propageer), en almal vrees inboesem oor hierdie ongoddelike mense wat kwansuis so magtig is dat hulle selfs God se beheer oor alles oortref, dan sien die getuies van Christus die koms van die koninkryk in hul eie harte en ook hul eie regeringstyd op die hele aarde, die waaragtige wêreldregering van God, volgens God se besluit en Sy ware plan:

Open 20:4-6  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  5  En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.  6  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.