‘Alles behoort aan julle’ – Die wêreld (Deel 4)

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Paulus het die volgende waarhede aan die gemeentelede daar in Korinthe gegee om hulle te help om die groter prent te sien – hoe alles in hierdie aardse lewe ons voorberei vir die lewe in gees wat aan elkeen geskenk sal word op die tyd soos die Vader bepaal het.

Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Paulus noem dat die gelowiges in Korinthe moet leer uit alles wat God aan hulle toevertrou, dit sluit in mense sowel as omstandighede. Paulus waarsku ook egter dat hierdie dinge deur die Skrifte aan ons verduidelik word, nie deur ons persoonlike interpretasies nie. Die betekenis van elkeen van die dinge wat aan ons geskenk word in hierdie lewe, word egter net verduidelik binne die konteks van die Skrifte, en ons moet nie buite hierdie raamwerk gaan om die betekenis van dinge te vind nie:

1Kor 4:6  Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

Ons ervaringe met mense en die dinge rondom ons word deur God na ons gebring, en deur die Skrifte alleen sien ons die ware les en betekenis in dit alles. Die fokus is dus op God en Sy Woord, en nie op ons fisiese ervaringe en ons eie verduidelikings en begrippe nie.

2Pe 1:19-21  En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte;  20  terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;  21  want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

Mense volg Jesus eers vir aardse redes (die brood en vis – Joh 6:1-15), voordat hulle die dieper geestelike dinge kan sien en begin begeer (Joh 6:60-71). Ons begin almal eers in die vlees voordat ons na die dieper dinge van God getrek word. Ons almal sien dus eers die aardse waarde in ons eie oortuiginge, voordat ons uit ons eie aardse denke uitgelig word. Hierdie verhewe denke van Christus word die “derde hemel” genoem deur die apostel Paulus:

2Kor 12:1-2  Dit is waarlik vir my nie nuttig om te roem nie, want ek sal kom tot gesigte en openbaringe van die Here.  2  Ek weet van ‘n man in Christus, veertien jaar gelede—of dit in die liggaam was, weet ek nie, of buite die liggaam, weet ek nie, God weet dit—dat so iemand weggeruk is tot in die derde hemel.

Die begeerte vir die dieper geestelike dinge van God (Sy ware brood) word egter nie in hierdie lewe aan almal geskenk nie!

Joh 6:22-27  Die volgende dag sien die skare wat oorkant die see gestaan het, dat daar geen ander skuit was nie, behalwe daardie een waarin sy dissipels gegaan het; en dat Jesus nie saam met sy dissipels in die skuit gegaan het nie, maar dat sy dissipels alleen weggevaar het.  23  Maar ander skuite het van Tibérias aangekom naby die plek waar hulle die brood geëet het, nadat die Here gedank het.  24  Toe die skare dan sien dat Jesus nie daar was nie en sy dissipels ook nie, het hulle self ook in die skuite geklim en na Kapérnaüm gegaan om Jesus te soek.  25  En toe hulle Hom oorkant die see gevind het, sê hulle vir Hom: Rabbi, wanneer het U hier gekom?  26  Jesus antwoord hulle en sê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, julle soek My nie omdat julle tekens gesien het nie, maar omdat julle van die brode geëet en versadig geword het.  27  Moenie werk om die spys wat vergaan nie, maar om die spys wat bly tot in die ewige lewe, wat die Seun van die mens julle sal gee; want Hom het God, die Vader, verseël.

Jesus noem dit as volg aan duiwel wat Jesus kom versoek het om op aardse dinge (“die spys wat vergaan”) te fokus en daarin bly:

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood (“die spys wat vergaan”) alleen lewe nie, maar van elke woord (die ware spys / brood “wat bly tot in die ewige lewe”) wat deur die mond van God uitgaan.

Alles in hierdie lewe kom deur God na ons toe, en alles wat neergeskryf is in die Skrifte leer ons van ons eie lewe. Paulus noem die volgende dinge aan die gemeentelede daar in Korinthe, en dit is dan ook neergeskryf in die Skrifte vir ons persoonlike onthalwe. Dit sluit in…

  • die lewe en ervaring wat Paulus self deurgegaan het, is uiters leersaam,
  • so ook die lewe en ervaringe van Apollos,
  • net so is die lewe en ervaringe van Céfas (Simon Petrus) belangrik om van kennis te neem,
  • ook leer mens van die wêreld waarin mens geplaas word,
  • mens leer wat die lewe in sy hele omvang behels,
  • mens leer deur die dood,
  • mens leer uit die teenswoordige dinge,
  • mens leer dat die toekomstige dinge ook aan elkeen behoort.

Ons hanteer elkeen van hierdie aspekte in hierdie studiereeks, soos God die openbaring aan ons elkeen gee deur Sy Woord. Ons het reeds gesels oor hoe die lewe en ervaringe van Paulus, Apollos en Céfas aan die gemeente daar in Korinthe behoort het, en ook aan ons behoort (die volgende skakels neem jou direk na die studies):

Die lewe van Paulus (Deel 1Deel 2Deel 3Deel 4Deel 5Deel 6Deel 7Deel 8)

Die lewe van Apollos

Die lewe van Céfas (Deel 1Deel 2Deel 3Deel 4Deel 5Deel 6)

Hoe behoort die wêreld aan ons?

Die apostel Johannes noem die volgende dinge wat in die wêreld is, en hoe ons “die wêreld” kan identifiseer…

1Jn 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  17  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Drie dinge staan uit in “die wêreld” en ons moet leer hieruit dat dit alles inherent in onsself is, maar dat dit alles ook van verbygaande aard is!

Interessant om op te let, is dat hierdie drie dinge ook in Adam en Eva se harte was nog voor hulle oortree het, voordat hulle geëet het van die verbode vrugte. Kyk net hier wat het Eva ervaar in haar denke (haar hart) voordat sy uitgereik het om te pluk van die verbode boom se vrugte, en wat sy ook aan Adam gegee het:

Gen 3:6  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet [“die begeerlikheid van die vlees”] en dat hy ‘n lus was vir die oë [“die begeerlikheid van die oë”], ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry [“die grootsheid van die lewe”]; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Hierdie dinge van die wêreld was reeds in Adam en Eva met hulle skepping. God het die mens geskape met hierdie dinge van die wêreld reeds binne-in hulle. Die wêreld en sy dinge was in hulle harte voordat hulle geëet het van die boom van kennis van goed en kwaad. Die mens was dus nie ‘n perfekte wese nie, soos die valse leraars met hul valse leerstellings aan ons preek nie. God het dit tog immers baie duidelik geskryf in die Skrifte dat Adam en Eva in vlees geskep was, en dat geen vlees ooit in Sy geestelike perfekte koninkryk kan bestaan nie. Vlees kan nie voor God roem nie want vlees kan nie God behaag nie:

1Kor 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

1Kor 1:29  sodat geen vlees voor Hom sou roem nie.

Rom 8:8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie;

Adam en Eva het nie God se geestelike volmaaktheid geken nie. Die volgende woorde van die profeet Jeremia was gerig aan die volk van Israel, maar is direk van toepassing op elke mens wat in “die eerste Adam” (die eerste “pot”) se beeld geskep word:

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Die aardse “pot” (vlees) misluk “in die hand van die Pottebakker”, soos Hy dit aan die nietigheid onderwerp en aan ‘n tydelike aardse lewe blootstel, vir Sy doeleindes:

Rom 8:20  Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het.

Rom 8:20 (KJV) For the creature was made subject to vanity, not willingly, but by reason of him who hath subjected the same in hope.

Ons sien dat Satan ook vir Jesus deur hierdie drie versoekings probeer vang het, maar Jesus het geweet hoe om Satan te weerstaan. Ons leer dan ook uit Jesus se voorbeeld hoe ons self hierdie bose verleier en die wêreld kan oorwin – deur die Woord van God.

Mat 4:3-10  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.  4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.  5  Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan  6  en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.  7  Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.  8  Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,  9  en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.  10  Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Die Woord van God (“daar is geskrywe”) is die enigste wapen teen die verleier. Dit is duidelik dat Adam en Eva nie toegerus en opgewasse was teen hierdie verleier nie. Jesus was wel toegerus met die volheid van die gees van die Vader en Hy het oorwin! Jesus was VOL van die gees van die Vader sê Lukas…

Luk 4:1  En Jesus het vol van die Heilige Gees teruggekeer van die Jordaan af, en is deur die Gees in die woestyn gelei,

Ons moet ook ten volle toegerus wees met die gees van die Vader as ons oorwinnaars wil wees. Hierdie volheid is egter net in Christus te vind, en deur Hom sal ons oorwin! Deur Christus is die VOLLE wapenrusting van God aan ons beskikbaar!

Efes 6:11-17  Trek die volle wapenrusting van God aan, sodat julle staande kan bly teen die liste van die duiwel.  12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug.  13  Daarom, neem die volle wapenrusting van God op, sodat julle weerstand kan bied in die dag van onheil en, nadat julle alles volbring het, staande kan bly.  14  Staan dan vas, julle lendene met die waarheid omgord, met die borswapen van die geregtigheid aan,  15  en as skoene aan julle voete die bereidheid vir die evangelie van vrede.  16  Behalwe dit alles neem die skild van die geloof op waarmee julle al die vurige pyle van die Bose sal kan uitblus.  17  En neem aan die helm van verlossing en die swaard van die Gees—dit is die woord van God—

Die natuurlike mens het tot vandag nie die volle wapenrusting van God nie. Die aantrek van die volheid van die gees van God is ‘n proses waartydens ons die aardse kleed moet uittrek en ons moet aantrek met die nuwe kleed van Christus. Dit gebeur net deur die oordeelproses van God, soos dit ook in die volgende woorde verduidelik word…

Mat 10:38-39  En wie sy kruis nie neem en agter My volg nie, is My nie waardig nie.  39  Wie sy [aardse] lewe vind, sal dit verloor; en wie sy [aardse] lewe verloor om My ontwil, sal dit [die nuwe lewe in gees] vind.

Ons kyk in hierdie studie na begeerlikheid “om verstand te verkrywat binne die boom was wat die kennis van goed en kwaad gehad het. Die woord “verstand” was vertaal van die Hebreeuse woord “śâkal” wat met wysheid te doen het. Hier is die wysheid van die wêreld ter sprake. Kyk net wat sê die apostel Jakobus oor hoe ons die wysheid van die wêreld kan identifiseer…

Jak 3:13-16  Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon.  14  Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie.  15  Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels;  16  want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.

Dit vereenselwig met die grootsheid van die lewe” wat deur die gees van die wêreld in ons harte is, en tot vandag net so relevant is as in die harte van Adam en Eva. Die boom van kennis van goed en kwaad verteenwoordig dus ons eie vlees, met sy grootsheid en trots.

Die begeerlikheid “om verstand te verkry”, viz. “Die grootsheid van die lewe”

Die grootsheid van die lewe het te make met ons trots en die liefde vir self – die verheffing van self en om die waarheid van God te weerstaan. Weereens kyk ons hoeveel dinge onder hierdie wêreldgees in ons resorteer, volgens apostel Jakobus:

Jak 3:13-16  Wie is wys en verstandig onder julle? Laat hom uit sy goeie lewenswandel sy werke in sagmoedige wysheid toon.  14  Maar as julle bittere afguns en selfsug in julle hart het, moenie roem en lieg teen die waarheid nie.  15  Dít is nie die wysheid wat van bo kom nie, maar is aards, natuurlik, duiwels;  16  want waar afguns en selfsug is, daar is wanorde en allerhande gemene dade.

Die mens is van nature opgeskeep met die self – die ego wat werksaam in ons is vanaf ons eerste asemteug. ‘n Nuwe baba is die fokus van elke familie – alle aandag word aan die kleinding gegee. ‘n Baba se behoeftes geniet voorkeur, en moet bo alles aangespreek word. Ons almal is onvolwasse as ons net aan onsself dink en ons eie behoeftes wil vervul. Hierdie onvolwassenheid leef voort in baie mense tot self ‘n hoë ouderdom – hulle kan eenvoudig nie ontslae raak van hierdie kinderagtige gedrag nie. Veral as die self bedreig voel, kom die lelikste karaktereienskappe van mens na vore. Ons is lief vir onsself en ons wil die self beskerm en laat voortleef. So was dit van die begin af ook, en ons sien dit in die lewe van Adam en Eva se eerste seun, Kain, wat hierdie selfsugtigheid van ons eie aardse onvolwasse mens uitbeeld:

Gen 4:1-8  En die mens het sy vrou Eva beken, en sy het swanger geword en Kain gebaar en gesê: Ek het ‘n man verkry met die hulp van die HERE.  2  Daarna het sy ook sy broer Abel gebaar. En Abel het ‘n skaapherder geword, en Kain ‘n landbouer.  3  En ná verloop van tyd het Kain van die vrugte van die land aan die HERE ‘n offer gebring.  4  En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien,  5  maar Kain en sy offer nie aangesien nie. Toe word Kain baie kwaad, en hy het sy hoof laat hang.  6  En die HERE sê vir Kain: Waarom is jy kwaad, en waarom laat jy jou hoof hang?  7  Is daar nie verheffing as jy goed doen nie? En as jy nie goed doen nie—die sonde lê en loer voor die deur, en sy begeerte is na jou; maar jy moet daaroor heers.  8  En Kain het met sy broer Abel gepraat; en toe hulle in die veld was, het Kain teen sy broer Abel opgestaan en hom doodgeslaan.

Abel het geleer om reg te offer (‘n lewe te gee)…

Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet

Maar Kain het sy eie opbrengs van vrugte as goed genoeg beskou. Kain het gedoen wat sy pa en ma gedoen het toe hulle ‘n bedekking teen hul aardsheid wou hê.

Gen 3:7  Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

God vereis egter dat ‘n lewe opgeoffer word. Die vel wat hulle vleeslike naaktheid moes bedek was verkry van ‘n dier wat geoffer was…

Gen 3:21  En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

Abel het dit geweet en aan God respek betoon. In gehoorsaamheid aan God het Abel die regte offer aan God gebring:

Gen 4:4  En Abel het ook van die eersgeborenes van sy kleinvee gebring, naamlik van hulle vet. En die HERE het Abel en sy offer genadig aangesien.

Kain het die gees van die wêreld gevolg, en dit het hom duur te staan gekom. Hy was gemerk en so is ons eie aardse mens gemerk deur God as ‘n verworpene:

Gen 4:9-16  Toe sê die HERE vir Kain: Waar is jou broer Abel? En hy antwoord: Ek weet nie. Is ek my broer se wagter?  10  En Hy sê: Wat het jy gedoen? Die stem van die bloed van jou broer roep na My van die aarde af.  11  Daarom sal jy vervloek wees, ver van die grond wat sy mond oopgemaak het om die bloed van jou broer uit jou hand te ontvang.  12  As jy die grond bewerk, sal dit sy vermoë aan jou nie meer gee nie; ‘n swerwer en vlugteling sal jy wees op die aarde.  13  Daarop sê Kain vir die HERE: My skuld is te groot om dit te dra.  14  Kyk, U verdryf my nou uit die land uit, en ek moet my verberg vir u aangesig: ‘n swerwer en vlugteling sal ek op die aarde wees, en elkeen wat my kry, sal my doodslaan.  15  Maar die HERE sê vir hom: Daarom, as enigeen Kain doodslaan, sal dit sewevoudig gewreek word. En die HERE het ‘n teken gegee aan Kain, sodat enigeen wat hom kry, hom nie sou doodslaan nie.  16  Toe gaan Kain weg van die aangesig van die HERE, en hy het gewoon in die land Nod, aan die oostekant van Eden.

Kain was ‘n swerwer en vlugteling in die land van Nod, die land van selfvervulling, die land van rusteloosheid, die land van selfgenot, en al die derglike dinge wat die vlees net nie van genoeg van kry nie. Ons eie aardse mens leef weg van die aangesig van God en word ‘n liefhebber van self en van genot:

2Ti 3:2-4  Want die mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig,  3  sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie,  4  verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God.

Daar is niks wat die grootshed van die lewe so goed wegsteek soos ons eiegeregtigheid. Ons kan aanvanklik nie hierdie selfsugtigheid en trots in onsself raaksien nie. Dit is dan ook die tema van die boek van Job. Job kon nie sy eiegeregtigheid en trots raaksien nie, en net so kon sy drie vertroosters (Élifas, Bildad en Sofar) ook nie hul eie eiegeregtighede raaksien toe hulle Job se sondes so maklik kon raaksien nie. Job is ‘n tipe van onsself, en ook Job se vertroosters wys uit hoe ons blind is vir ons eie vingerwysings na ander mense wat ons as groter sondaars as onsself sien. God self het Job se goeie aardse karaktertrekke laat neerskryf vir ons in die eerste verse van die boek:

Job 1:1-5  Daar was ‘n man in die land Us wie se naam was Job; en dié man was vroom en opreg en godvresend en een wat afgewyk het van die kwaad.  2  En vir hom is daar sewe seuns en drie dogters gebore.  3  Daarby was sy besitting sewe duisend stuks kleinvee en drie duisend kamele en vyf honderd paar beeste en vyf honderd eselinne en ‘n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste.  4  En sy seuns was gewoond om ‘n maaltyd aan te rig in die huis van elkeen op sy dag. Dan stuur hulle en nooi hul drie susters om saam met hulle te eet en te drink.  5  En elke keer as die dae van die maaltye om was, het Job gestuur en hulle geheilig. Dan maak Job die môre vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën! So het Job altyd gedoen.

Wat ‘n man! Wat ‘n pragtige getuigskrif van Job se karakter, sy prysenswaardige lewensfilosofie, en sy voorbeeldige rol as vader. Job was ook ‘n uitstaande leier en vooraanstaande lid in sy gemeenskap. Dit hoor ons uit Job se eie mond oor sy goeie werke en goeie karakter….

Job 31:1-40  Ek het ‘n verbond gesluit met my oë: hoe sou ek dan ag gegee het op ‘n jonkvrou?  2  Wat tog is die lot wat God daarbo beskik, en die erfdeel van die Almagtige uit die hoogtes—  3  is dit nie ondergang vir die kwaaddoener en ongeluk vir die werkers van ongeregtigheid nie?  4  Sien Hy nie my weë nie, en tel Hy nie al my voetstappe nie?  5  As ek met leuens omgegaan het en my voet gehardloop het na bedrog:  6  laat Hy my dan weeg op ‘n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!  7  As my gang afgewyk het van die weg en my hart agter my oë aangegaan het en aan my hande ‘n vlek gekleef het—  8  laat my dan saai en iemand anders eet, en laat my uitspruitsels ontwortel word.  9  As my hart verlok was oor ‘n vrou, en ek geloer het by die deur van my naaste—  10  laat dan my vrou vir iemand anders maal en ander hulle oor haar buig.  11  Want dit is ‘n skandelike daad, en dit is ‘n strafbare misdaad.  12  Ja, dit is ‘n vuur wat tot by die plek van vertering toe vreet en al my opbrings sou ontwortel.  13  As ek gering geag het die reg van my slaaf of van my slavin toe hulle ‘n geskil met my gehad het—  14  wat sou ek dan doen as God opstaan? En wat Hom antwoord as Hy ondersoek doen?  15  Het Hy wat my in die moederskoot gemaak het, hom nie gemaak nie? En het Een ons nie in die geboorte toeberei nie?  16  As ek die armes ‘n versoek geweier het en die oë van die weduwee laat versmag het  17  en my stukkie brood alleen geëet het sonder om die wees daarvan te laat saameet;  18  (veelmeer het hy van my jeug af by my grootgeword soos by ‘n vader, en van my moeder se skoot af het ek haar gelei!)  19  as ek iemand sien omkom het sonder klere en dat daar geen bedekking vir die behoeftige was nie;  20  as sy lendene my nie geseën en hy hom nie warm gemaak het van die skeersel van my lammers nie;  21  as ek my hand teen ‘n wees beweeg het, omdat ek in die poort vir my hulp gesien het—  22  laat dan my skouer uit sy gewrig val en my arm van sy pyp afgebreek word.  23  Want die ondergang wat God bewerk, was ‘n skrik vir my; en weens sy hoogheid was ek onmagtig.  24  As ek op goud my hoop gestel het en vir die fyn goud gesê het: My vertroue!  25  As ek bly gewees het, omdat my vermoë groot was en my hand baie verwerf het;  26  as ek die sonlig aangesien het wanneer dit helder skyn en die maan wat so pragtig daarheen gaan,  27  en my hart heimlik verlei is, en ek met my hand hulle ‘n kus toegewerp het—  28  ook dit sou ‘n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het.  29  As ek bly was oor die ongeluk van my hater en uitgejubel het toe onheil hom getref het;  30  (ja, ek het my verhemelte nie toegelaat om te sondig nie, om deur ‘n vloek sy lewe te vorder nie!)  31  as die mense in my tent nie gesê het: Wie kan iemand vind wat van sy vleesspys nie versadig is nie?  32  (die vreemdeling het nie buitekant vernag nie; my deure het ek oopgemaak na die pad toe!)  33  as ek, soos Adam, my oortredinge bedek het deur my ongeregtigheid in my boesem weg te steek,  34  omdat ek bang was vir die groot menigte en die veragting van die geslagte my laat skrik het, sodat ek my stil gehou, die deur nie uitgegaan het nie!  35  Ag, as iemand my maar wou aanhoor! Kyk hier my handtekening (laat die Almagtige my antwoord!) en die skrif wat my teëparty geskrywe het!  36  Waarlik, op my skouer sou ek dit dra; ek sou dit my ombind as ‘n krans.  37  Die getal van my voetstappe sou ek Hom te kenne gee; as ‘n vors sou ek na Hom toe aankom.  38  As my saailand my aanklaag en sy vore almal saam ween;  39  as ek sy opbrings geëet het sonder betaling en die lewe van sy eienaars uitgeblaas het—  40  laat dan distels in plaas van koring uitspruit en onkruid in plaas van gars. Hier eindig die woorde van Job.

Alles hierdie dinge was waar! Job was 100% reg! Daar is egter ‘n probleem. Die dinge het Job se hart opgehef, en hom laat glo dat dit is hy wat volgens sy “vrye” wil alles reg gedoen het. Hoe kan ‘n regverdige mens dinge verkeerd kry? Hoe kan ‘n man wat “vroom en opreg en godvresend is en een wat afgewyk het van die kwaad” dan verkeerd wees? Hierdie was alles vrae in Job se hart…

Job 27:1-6  En Job het verder sy spreuk aangehef en gesê:  2  So waar as God leef wat my my reg ontneem het, en die Almagtige wat my siel bitterheid aangedoen het—  3  want my asem is nog heeltemal in my, en die lewensasem van God is in my neus—  4  my lippe spreek geen onreg nie, en my tong verkondig geen bedrog nie!  5  Dit is ver van my dat ek julle gelyk sou gee; totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld nie prysgee nie.  6  Aan my geregtigheid hou ek vas en laat dit nie los nie; my hart veroordeel geeneen van my dae nie.

Job was vasgevang in sy eie geregtigheid. God het Job daarmee gevang in Sy net en net God kan iemand uit daardie net vrymaak. Job, en ons almal, leer op die regte tyd die ware toedrag van sake. Dit is juis die goeie werke van ons vlees wat God as ‘n onrein en besoedelde kleed sien:

Jes 64:6  En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Luister: Let wel! Dit is ons geregtighede wat ons so maklik voor God uithang wat eintlik die besoedelde kleed is.

God hou nie van ons goeie werke in vlees nie! Hoe onverstaanbaar is dit vir die natuurlike denke. Hoor net wat gebeur met diegene wat voor Jesus se regterstoel verskyn met hul goeie werke wat hulle voorwaar gedoen het…

Mat 7:21-23  Nie elkeen wat vir My sê: Here, Here! sal ingaan in die koninkryk van die hemele nie, maar hy wat die wil doen van my Vader wat in die hemele is.  22  Baie sal in daardie dag vir My sê: Here, Here, het ons nie in u Naam geprofeteer en in u Naam duiwels uitgedrywe en in u Naam baie kragte gedoen nie?  23  En dan sal Ek aan hulle sê: Ek het julle nooit geken nie. Gaan weg van My, julle wat die ongeregtigheid werk!

Net soos dit was vir Job, so is dit met ons. Die goeie werke in ons vlees sal nie die knoop vir ons deurhaak as dit kom by God se regverdige oordeel nie. Goeie werke in die vlees is inderdaad goeie werke in die vlees. Maar dit kan nie die gees van lewe in ons bring nie. Die gees van lewe kom net in ons deur God se oordeel waartydens ons leer van Sy geregtigheid

Jes 26:9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

God se goeie werke vind plaas in gees (in die innerlike mens)!

Die geestelike werke van God werk in ons harte (ons denke), terwyl die aardse goeie werk meer gefokus is op dit wat deur mense gesien kan word!

Mat 6:1-4  Pas op dat julle nie jul liefdadigheid voor die mense bewys om deur hulle gesien te word nie; anders het julle geen loon by julle Vader wat in die hemele is nie.  2  Wanneer jy dan liefdadigheid bewys, moenie ‘n trompet voor jou blaas soos die geveinsdes in die sinagoges en op die strate doen, dat hulle deur die mense geëer kan word nie. Voorwaar Ek sê vir julle, hulle het hul loon weg.  3  Maar jy, as jy liefdadigheid bewys, laat jou linkerhand nie weet wat jou regterhand doen nie,  4  sodat jou liefdadigheid in die verborgene kan wees; en jou Vader wat in die verborgene sien, Hy sal jou in die openbaar vergelde.

Job moes leer dat ons met niks in hierdie wêreld kom, en met niks daaruit gaan. Om deur mense geëer te word is vir baie mense hoog op die agenda. Om deur God geëer te word is egter van groter ewige waarde. As ons weet dat alles God se werke IN ons is wat ons dan na vore bring, dan is die wysheid van God in ons:

Fil 2:12-13  Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing;  13  want dit is God wat in julle werk om te wil sowel as om te werk na sy welbehae.

As die wysheid van God in ons werksaam is, dan sien ons ook hoe Hy in en deur ons werksaam is – tot Sy eer en verheerliking.

Rom 11:36  Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Efes 1:11  in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.

Ons vlees (ons mens van sonde) kan nie van sy troon afklim op sy eie “vrye” wil nie, want daar is nie ‘n “vrye” wil nie. Hy sal egter van die troon verwyder word as God se oordeel hom tref:

2Th 2:3-8  Laat niemand julle op enige manier mislei nie, want eers moet die afval kom en die mens van sonde geopenbaar word, die seun van die verderf  4  die teëstander wat hom verhef bo al wat God genoem word of voorwerp van aanbidding is, sodat hy in die tempel van God as God sal sit en voorgee dat hy God is.  5  Onthou julle nie dat ek dit altyd vir julle gesê het toe ek nog by julle was nie?  6  En nou, julle weet wat hom teëhou, sodat hy op sy tyd geopenbaar kan word.  7  Want die verborgenheid van die ongeregtigheid is al aan die werk, net totdat hy wat nou teëhou, uit die weg geruim is;  8  en dan sal die ongeregtige geopenbaar word, hy wat die Here met die asem van sy mond sal verdelg en deur die verskyning van sy wederkoms tot niet sal maak,

God se wil bepaal alles wat in hierdie skepping gebeur – die goeie dinge en die bose dinge!

Jes 45:5-7  Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,  6  sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;  7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

God bewerkstellig alles in ons en ons speel die rol van die bose en die rol van die goeie. Ons vlees wil troon bo ander mense en onsself as goed sien. In die volgende gelykenis tree ons eerstens op soos die Fariseër, voordat ons die plek van die tollenaar inneem…

Luk 18:9-14  En Hy het ook met die oog op sommige wat op hulleself vertrou dat hulle regverdig is en die ander verag, hierdie gelykenis vertel.  10  Twee manne het na die tempel opgegaan om te bid, die een ‘n Fariseër en die ander ‘n tollenaar.  11  En die Fariseër het gaan staan en by homself so gebid: o God, ek dank U dat ek nie soos die ander mense is nie—rowers, onregverdiges, egbrekers, of ook soos hierdie tollenaar nie.  12  Ek vas twee keer in die week, ek gee tiendes van alles wat ek verkry.  13  En die tollenaar het ver weg gestaan en wou selfs nie sy oë na die hemel ophef nie, maar het op sy bors geslaan en gesê: o God, wees my, sondaar, genadig!  14  Ek sê vir julle, hierdie laaste een het geregverdig na sy huis gegaan eerder as die eerste een; want elkeen wat homself verhoog, sal verneder word, en hy wat homself verneder, sal verhoog word.

“Alles behoort aan ons” want ons leef van elke woord (ook elke karakter) in die Skrifte:

Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Tydens ons tyd van grootsheid val ons oor “die steen” (die steen is Christus en Sy waarheid). As God egter ons oë open, dan aanvaar ons Sy oordeel en dan val die steen op ons grootsheid en hoogmoed en dit kom tot ‘n val.

Mat 21:42  Jesus sê vir hulle: Het julle nooit in die Skrifte gelees nie: Die steen wat die bouers verwerp het, dit het ‘n hoeksteen geword. Hy het van die Here gekom en is wonderbaar in ons oë?

Mat 21:44  En hy wat op hierdie steen val, sal verpletter word; maar elkeen op wie hy val, dié sal hy vermorsel.

Spr 16:18  Trotsheid kom voor die verbreking, en hoogmoed kom voor die val.

Job het tot dieselfde skokkende gevolgtrekking gekom en die openbaring gekry dat God se raadsbesluit alles bepaal en laat gebeur op aarde en in elkeen se lewe. Ons kan vir niks krediet vat nie!!!

Job 42:1-6  Toe het Job die HERE geantwoord en gesê:  2  Ek weet dat U alles kan doen en geen plan vir U onuitvoerbaar is nie.  3  Wie verberg die raadsbesluit daar sonder kennis? So het ek dan gespreek sonder om te verstaan, dinge te wonderbaar vir my, wat ek nie begryp nie.  4  Hoor tog, en ék sal spreek; ek sal U ondervra en onderrig U my!  5  Volgens hoorsê het ek van U gehoor; maar nou het my oog U gesien.  6  Daarom herroep ek en het berou in stof en as.

Dit is net die regverdige oordeel van God wat hierdie “grootsheid van die lewe” in ons eie hart aan ons uitwys en dit uitwis!

“…want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid”

Die geregtigheid van God vervang die eiegeregtigheid van ons aardse harte, net soos die vel van ‘n dier (‘n dooie dier – ons ou mens wat gekruisig is) die onvoldoende (blaar)kleed van Adam en Eva vervang het en die ware beskutting bied.

Gen 3:7  Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

Gen 3:21  En die HERE God het vir die mens en sy vrou rokke van vel gemaak en hulle dit aangetrek.

Die geregtigheid van God is die kleed wat nou gegee word aan die vrou van die Lam (die uitverkorenes van die kerk in Christus), en hierdie kleed bied aan hulle uitsluitlike toegang tot die builof van die Lam!

Open 19:6-9  En ek het iets gehoor soos die stem van ‘n groot menigte en soos die geluid van baie waters en soos die geluid van sterk donderslae wat sê: Halleluja! want die Here God, die Almagtige, het die koningskap aanvaar.  7  Laat ons bly wees en ons verheug en aan Hom die heerlikheid gee, want die bruilof van die Lam het gekom en sy vrou het haar gereed gemaak.  8  En aan haar is gegee om bekleed te wees met rein en blink fyn linne, want die fyn linne is die regverdige dade van die heiliges.  9  Toe sê hy vir my: Skryf salig is die wat genooi is na die bruilofsmaal van die Lam. En hy sê vir my: Dit is die waaragtige woorde van God.

Open 5:6-11  En ek het gesien, en kyk, in die middel van die troon en die vier lewende wesens en in die midde van die ouderlinge staan daar ‘n Lam asof Hy geslag is, met sewe horings en sewe oë, wat die sewe Geeste van God is wat uitgestuur is oor die hele aarde.  7  Hy het gekom en die boek geneem uit die regterhand van Hom wat op die troon sit;  8  en toe Hy die boek neem, val die vier lewende wesens en die vier en twintig ouderlinge voor die Lam neer, elkeen met siters en goue skale vol reukwerk, wat die gebede van die heiliges is.  9  Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,  10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.  11  Toe sien ek, en ek hoor ‘n stem van baie engele rondom die troon en van die lewende wesens en die ouderlinge; en hulle getal was tien duisende van tien duisende en duisende van duisende;

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.