‘Alles behoort aan julle’ – die lewe en die dood

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Inleiding

Alles behoort beslis aan ons, as God ons die geestelike oë gee om dit te kan sien. Die persone, die omstandighede en die tye mag verskil, maar dieselfde lot tref ons almal. Die Prediker (Salomo), stel dit as volg…

Pred 9:1-2  Want dit alles het ek ter harte geneem en dit alles het ek probeer deurgrond, dat die regverdiges en die wyse manne en hulle dade in die hand van God is, liefde sowel as haat; die mens weet niks van wat hom voorlê nie.  2  Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed.

Paulus skryf aan die gemeentelede daar in Korinthe van sy dag om hulle te help om te kan sien hoe alles aan hulle behoort. Hy probeer an hulle verduidelik dat alles en almal wat God na ons bring eintlik groot waarde aan ons toevoeg op vlakke wat ons nie altyd reg begryp nie:

1Kor 3:21-23 

Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;

– of dit Paulus is of Apollos of Céfas [persone]

– of die wêreld of lewe of dood [omstandighede]

– of teenswoordige of toekomstige dinge [tye]

alles behoort aan julle;  

– maar julle behoort aan Christus [die God wat alles in hierdie skepping beheer, en wie al die persone in ons lewe na ons bring, en ook al die omstandighede in ons lewe beheer, en ook die tye bepaal wanneer alles presies moet gebeur in ons lewe],

– en Christus [behoort] aan God [die Vader, UIT wie alles is].

Daar is dus dieper betekenis in alles wat ons deurgaan. Jesus noem ook die volgende woorde aan die duiwel wie Jesus kom versoek het om slegs op sigbare aardse dinge to fokus…

Mat 4:4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood (“die spys wat vergaan”) alleen lewe nie, maar van elke woord (die ware spys / brood “wat bly tot in die ewige lewe”) wat deur die mond van God uitgaan.

Aardse dinge (getipeer as “brood” in die woorde van Jesus aan die duiwel) is die dinge wat vergaan en van tydelike aard is. God se Woord is egter die ware spys wat die ware lewe gee, en dit is die Woord wat ons die ware betekenis gee van die aardse dinge wat ons ervaar. Die ware betekenis van alles in ons lewe word gevind binne die Skrifte, vir hulle wie die oë gegee is om dit te kan sien. Daarom noem Paulus ook die volgende belangrike woorde aan die Korinthiers:

1Kor 4:6  Hierdie dinge, broeders, het ek op myself en Apollos toegepas om julle ontwil, dat julle aan ons kan leer om nie te dink bo wat geskrywe is nie, sodat julle nie die een ter wille van die ander opgeblase sou wees teen ‘n derde nie.

Die Skrifte alleenlik gee ‘n omvattende uitleg van ons hele lewe, en alles wat ons binne hierdie aardse lewe deurgaan is eintlik ‘n gelykenis van die geestelike dinge van God. Jesus verduidelik in die volgende woorde aan Sy volgelinge waarom sommige mense nou in hierdie lewe gefokus is op die aardse dinge, en waarom Hy aan Sy volgelinge die verborge geestelike dinge van God openbaar deur die Skrifte:

Mat 13:10-17  En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle deur gelykenisse?  11  Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie.  12  Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het.  13  Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.  14  En aan hulle word die profesie van Jesaja vervul wat sê: Met die gehoor sal julle hoor en glad nie verstaan nie, en julle sal kyk en kyk, en glad nie sien nie.  15  Want die hart van hierdie volk het stomp geword, en met die ore het hulle beswaarlik gehoor; en hul oë het hulle toegesluit, sodat hulle nie miskien met die oë sou sien en met die ore hoor en met die hart verstaan en hulle bekeer en Ek hulle genees nie.  16  Maar julle oë is gelukkig, omdat hulle sien; en julle ore, omdat hulle hoor.  17  Want, voorwaar Ek sê vir julle, baie profete en regverdiges het begeer om te sien wat julle sien, en het dit nie gesien nie, en om te hoor wat julle hoor, en het dit nie gehoor nie.

Dit is die geestelike dinge van God wat agter die aardse dinge versteek is, en wat gesoek / gedelf moet word:

Luk 11:9-13  En Ek sê vir julle: Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  10  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.  11  En vir watter vader onder julle sal sy seun brood vra, en hy sal hom ‘n klip gee; of ook ‘n vis, en hy sal hom in plaas van ‘n vis ‘n slang gee;  12  of ook as hy ‘n eier vra, hom ‘n skerpioen gee?  13  As julle dan wat sleg is, weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal die hemelse Vader die Heilige Gees gee aan die wat Hom bid?

Alles in hierdie lewe kom VAN die Vader en word DEUR Jesus (die Woord) na ons gebring.

1Kor 8:6  tog is daar vir ons maar een God, die Vader uit wie alles is, en ons tot Hom, en een Here Jesus Christus deur wie alles is, en ons deur Hom.

Alles wat neergeskryf is in die Skrifte leer ons van ons eie lewe, as God ons geestelike oë gee om dit te kan sien.

Ons herhaal net weer ons kernteks:

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Ons hanteer elkeen van hierdie aspekte in hierdie studiereeks, soos God die openbaring aan ons elkeen gee deur Sy Woord. Ons het reeds gesels oor hoe die lewe en ervaringe van Paulus, Apollos en Céfas aan die gemeente daar in Korinthe behoort het, en ook aan ons behoort (die volgende skakels neem jou direk na die studies):

Die wêreld behoort ook aan ons. Drie dinge staan uit in “die wêreld” en ons beleef al hierdie dinge in ons eie lewe (volgens 1Joh 2:16):

Hoe behoort die lewe en die dood aan elkeen van ons?

Die lewe en die dood

Soos die gemeentelede in Korinthe van Paulus gehoor het, sal hulle en ook elke mens albei die lewe en die dood ervaar. Paulus praat hier egter nie van wat die natuurlike mens as lewe en dood verstaan nie. Paulus het die gemeentelede in Korinthe vermaan om nie sy woorde (en die Skrifte) met hul natuurlike denke en redeneringsvermoëns te probeer verstaan nie, want dan bly mens geestelik onvolwasse (“klein kinders in Christus”). Paulus het hulle baie sterk bestraf om weg te kom van hul geestelike “melk” en eerder op die vaste spyse van die gees te fokus :

1Kor 3:1-2  En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.  2  Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,

Die natuurlike denke van mens kan nie die geestelike dinge van God verstaan nie, en daarom was Paulus baie duidelik waarom sy woorde op die geestelike vlak beoordeel moet word…

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Ook die woorde “lewe” en “dood” moet geestelik beoordeel word, en ons doen dit soos die gees van God ons leer om dit te doen…

1Kor 2:13  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.

Ons moet “geestelike dinge met geestelike vergelyk”. Wat beteken dit? In kort beteken dit dat ons die woorde van God as gees moet herken en dan Skrifte met Skrifte vergelyk, want dit is hoe God Sy geestelike kennis oordra aan hulle wie volwassenes in die geestelike dinge van God is…

Joh 6:63  Dit is die Gees wat lewend maak, die vlees is van geen nut nie; die woorde wat Ek tot julle spreek, is gees en is lewe.

Jes 28:9-10  Vir wie wil hy dan kennis leer, en vir wie wil hy die openbaring verstaanbaar maak? Vir die wat van die melk gespeen, wat van die moederborste weggeneem is?  10  Want dit is gebod op gebod, gebod op gebod, reël op reël, reël op reël, hier ‘n bietjie, daar ‘n bietjie.

Ons almal ervaar eers geestelike dood voordat ons die geestelike lewe kan ervaar. Dit is hoe Paulus dit uitdruk:

1Kor 15:45-46  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.

Die eerste mens, Adam, het geensins geestelike lewe gehad nie, want dit kom eers na ons deur die “laaste Adam”, naamlik Christus:

1Jn 5:12  Hy wat die Seun het, het die lewe; wie die Seun van God nie het nie, het nie die lewe nie.

Joh 1:4  In Hom [Christus] was lewe, en die lewe was die lig van die mense.

Joh 6:48  Ek is die brood van die lewe.

Joh 10:10  Die dief kom net om te steel en te slag en te verwoes. Ek het gekom, dat hulle lewe en oorvloed kan hê.

Joh 14:6  Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.

Die eerste mens (en alle mense daarna) het ‘n aardse tydelike lewe (‘n “lewende siel”) ontvang wat nie volgens die “lewendmakende gees” van God was nie. Dit is net deur die “laaste Adam”, Jesus Christus, wat ware geestelike (ewige) lewe aan elke mens geskenk sal word op die tyd soos die Vader dit bepaal het. Adam, en almal wat na hom gekom het en gebore was in vlees, het nie die lewe van God se gees in hom gehad nie! Die waarheid is dat vlees NIE gees is nie – die twee staan teenoor mekaar!

Gal 5:17  ….hulle staan teenoor mekaar…

Vlees kan nie God se geestelikheid ken of betree nie:

1Kor 15:50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

Die lewe wat ons in die vlees ken, is wat geestelike dood is. Dit is ook baie duidelik in God se eie woorde aan Adam:

Gen 2:15-17  Toe het die HERE God die mens geneem en hom in die tuin van Eden gestel om dit te bewerk en te bewaak.  16  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,  17  maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik [Hebreeus: “mûth”] sterwe [Hebreeus: “mûth”] .

Die woorde “sekerlik sterwe” is ‘n vertaling wat nie die oorspronklik betekenis van die Hebreeuse woorde en gedagte van God reg uitdruk nie. Die woord “sekerlik” in die vers 17 van Genesis 2 was vertaal van die Hebreeuse woord “mûth”. Maar hierdie Hebreeuse woorde word egter herhaal in dieselfde vers in Genesis 2 vers 17 en dan word dit reg vertaal as “sterwe”! God het vir Adam (en vir ons wat dit kan sien) dit baie duidelik gemaak dat as Adam van die verbode boom se vrug sal eet sy oë sal oopgaan en dan sal hy sien dat hy ‘n sterwende wese is en nie God se woorde kan gehoorsaam wees nie. Adam was gemaak in ‘n tydelike fisiese skepping wat nie vir ewig sou bestaan nie, en wat nie God se geestelike dinge sou kon volg en verstaan nie:

Gal 5:17  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

Adam het nie God se plan geken nie, en so is elke natuurlike mens ook onbekend met God se groot plan. Almal begin in ‘n natuurlike skepping, en dan volg die geestelike skepping. So verduidelik die profeet Jeremia hierdie twee skeppings as twee potte in die hand van God:

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker

Die eerste pot was doelbewus so gemaak, en het dus doelbewus misluk “in die hand van die Pottebakker”. As die mens hierdie waarheid ontdek, is daar onvermydelik ‘n vraag oor waarom God ons dan deur hierdie aardse toestand neem en dan nog verder ons verwyt oor wat ons doen in hierdie toestand. Paulus het ook die vraag gekry en dit so mooi beantwoord aan die gemeente in Rome van sy dag…

Rom 9:20  Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?

God neem egter VOLLE verantwoordelikheid vir alles en dit is wat die natuurlike mens ook nie kan verstaan nie. As ons die geloof geskenk word om te weet dat God alles haarfyn uitgewerk het voor Hy enigiets geskep het in hierdie skepping, dan weet ons ook dat alles reg gaan uitdraai op die einde.

Jes 46:9-10  Dink aan die dinge wat tevore was, van ouds af, dat Ek God is, en daar is geen ander nie; Ek is God, en daar is niemand soos Ek nie;  10  wat van die begin af verkondig die einde, en van die voortyd af wat nog nie gebeur het nie; wat sê: My raad sal bestaan, en al wat my behaag, sal Ek doen;

God se raad sal bestaan en HY doen soos dit Hom behaag. Hy het die eerste Adam so geskep in tydelike vlees om hom (en almal wat deur hom sou kom) deur ‘n leerproses te neem sodat hulle God self kon leer ken. Sy metode is egter te moeilik om dit uit te werk vir die natuurlike mens, en daarom het die mens en sy godsdienste so baie valse leerstellings ontwerp om God te probeer verduidelik en sodoende het hul al verder in hul eie donker gat ingesink. Kyk wat sê die wyse Salomo nadat hy met al sy aardse wysheid ondersoek het na dit wat God in hierdie skepping doen…

Pred 1:13  En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.

Ecc 1:13 (KJV) And I gave my heart to seek and search out by wisdom concerning all things that are done under heaven: this sore travail hath God given to the sons of man to be exercised therewith.

Ecc 1:13 (CLV) I applied my heart to inquiring and exploring by wisdom concerning all that is done under the heavens: it is an experience of evil Elohim has given to the sons of humanity to humble them by it.

Pred 3:11  Alles het Hy mooi gemaak op sy tyd; ook het Hy die eeu in hulle hart gelê sonder dat die mens die werk wat God doen, van begin tot end, kan uitvind.

Ecc 3:11 (CLV) He has made everything fitting in its season; However, He has put obscurity in their heart So that the man may not find out His work, That which the One, Elohim, does from the beginning to the terminus.”

Die sonde en die dood het deur die eerste mens, Adam, gekom na ons elkeen:

Rom 5:12  Daarom, soos deur een mens die sonde in die wêreld ingekom het en deur die sonde die dood, en so die dood tot alle mense deurgedring het, omdat almal gesondig het.

Die mens was gemaak in ‘n vleeslike liggaam “van hierdie dood”…

Rom 7:24  Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood?

Die vleeslike mens in sy “liggaam van hierdie dood” was ook geskep met ‘n natuurlike denke, en kyk hoe beskryf die Skrifte die mens se denke…

Rom 8:5-8  Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.  6  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,  7  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.  8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Kan jy nou meer. Ons is omring en vol van die dood! Alles wat ons as aardse mens ervaar, het te doen met die dood. Dit is hoe “die dood” aan ons behoort, soos Paulus ook vir ons uitwys deur sy skrywe aan die gemeente daar in Korinthe.

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

MAAR DAAR IS GOEIE NUUS!

Die lewe (die geestelike lewe van God) behoort ook aan elke mens.

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of LEWE of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Elke mens wie deur die aardse eerste Adam kom, sal ook die lewe in Christus gegee word!!! God het die pot weer gemaak, soos dit REG was in Sy oë!

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Die geestelike lewe kom deur Christus, die laaste Adam. Hier is die ‘n paar bewyse in die Skrifte!!! Lees dit! Memoriseer dit! Bid vir geloof om dit te aanvaar as waarheid!!!

1Kor 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  27  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  28  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Ons sien dus nou nie meer mense net op die een manier nie (sondig en geestelike dood nie), nee, ons sien dat hulle almal ook verlossing sal kry van die sonde en die dood, deur Jesus Christus!

1Jn 2:1-2 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige.  2  En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.

Jesus is inderdaad die Verlosser en Redder van almal,

Hy is nou besig met ‘n paar wat nou Sy stem kan hoor, maar Hy sal “op die regte tyd” (volgens die orde van die Vader) almal tot verlossing bring UIT die vlees na die gees! UIT DIE DOOD NA DIE LEWE!

Die volgende tekste is so duidelik soos daglig dat almal die dood en die lewe sal ervaar, soos God dit van die begin af bepaal het:

2Kor 5:16-19  Ons ken dus van nou af niemand meer na die vlees nie; en al het ons ook Christus na die vlees geken, nou ken ons Hom tóg nie meer so nie.  17  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.  18  En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,  19  naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.

1Ti 2:3-6  Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,  4  wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.  5  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,  6  wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.

1Ti 4:9-10  Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word;  10  want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.

Die oorgang van die dood tot die lewe gaan deur God se oordeel, wat deur Jesus Christus na ons elkeen kom in die spesifieke oordeel, volgens die “orde” soos die Vader bepaal het:

Joh 5:19-29  Jesus het toe geantwoord en vir hulle gesê: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, die Seun kan niks uit Homself doen tensy Hy die Vader dit sien doen nie. Want alles wat Hy doen, dit doen die Seun ook net so.  20  Want die Vader het die Seun lief en toon Hom alles wat Hy self doen. En groter werke as hierdie sal Hy Hom toon, sodat julle verwonderd kan wees.  21  Want soos die Vader die dode opwek en lewend maak, so maak ook die Seun lewend wie Hy wil.  22  Want die Vader oordeel ook niemand nie, maar het die hele oordeel aan die Seun gegee,  23  sodat almal die Seun kan eer net soos hulle die Vader eer. Wie die Seun nie eer nie, eer nie die Vader wat Hom gestuur het nie.  24  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie my woord hoor en Hom glo wat My gestuur het, het die ewige lewe en kom nie in die oordeel nie, maar het oorgegaan uit die dood in die lewe.  25  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, daar kom ‘n uur, en dit is nou, wanneer die dode die stem van die Seun van God sal hoor; en die wat dit gehoor het, sal lewe.  26  Want soos die Vader lewe het in Homself, so het Hy aan die Seun ook gegee om lewe in Homself te hê.  27  En Hy het Hom mag gegee om ook te oordeel, omdat Hy die Seun van die mens is.  28  Moenie julle hieroor verwonder nie. Want daar kom ‘n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor  29  en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling.

Die uitverkorenes van Christus, die huis van God, gaan nie deur die “tweede dood”-oordeel nie:

Open 2:11  Wie ‘n oor het, laat hom hoor wat die Gees aan die gemeentes sê. Die wat oorwin, sal deur die tweede dood geen skade ly nie.

Open 20:6  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Die huis van God gaan egter nou (in hierdie lewe) deur die oordeel.

1Pe 4:17-18  Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?  18  En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?

Diegene in die huis van God kan die geestelike woorde van God hoor. Aan hulle word die lewe in gees geskenk as ‘n onderpand (‘n belofte):

Efes 1:13-14  in wie julle ook, nadat julle die woord van die waarheid, die evangelie van julle redding, gehoor het, in wie julle, nadat julle ook geglo het, verseël is met die Heilige Gees van die belofte,  14  wat die onderpand is van ons erfdeel om sy eiendom te verlos tot lof van sy heerlikheid.

Die volheid van die gees van God kom eers na hulle by die opstanding uit die dood by die eerste opstanding:

Open 20:4-6  En ek het trone gesien, en hulle het daarop gaan sit, en aan hulle is die oordeel gegee; en ek het die siele gesien van die wat onthoof is oor die getuienis van Jesus en oor die woord van God, en die wat die dier en sy beeld nie aanbid het nie, en die merk op hulle voorhoof en op hulle hand nie ontvang het nie; en hulle het geleef en as konings geregeer saam met Christus die duisend jaar lank.  5  En die ander dode het nie herlewe totdat die duisend jaar voleindig was nie. Dit is die eerste opstanding.  6  Salig en heilig is hy wat deel het aan die eerste opstanding; oor hulle het die tweede dood geen mag nie, maar hulle sal priesters van God en van Christus wees en sal saam met Hom as konings regeer duisend jaar lank.

Petrus vra in 1Petrus 4 verse 17 en 18 die volgende retoriese vrae…

“…wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is? En as die regverdige nouliks gered word, waar sal die goddelose en die sondaar verskyn?”

Petrus het die antwoord op sy eie vrae reeds ontvang, en ons kry die antwoorde in die Skrifte. Hier is een gedeelte wat hierdie vrae beantwoord…

Open 20:11-15  En ek het ‘n groot wit troon gesien en Hom wat daarop sit, voor wie se aangesig die aarde en die hemel weggevlug het; en daar is geen plek vir hulle gevind nie.  12  En ek het die dode, klein en groot, voor God sien staan, en die boeke is geopen; en ‘n ander boek, die boek van die lewe, is geopen. En die dode is geoordeel na wat in die boeke geskryf is, volgens hulle werke.  13  En die see het die dode gegee wat daarin was, en die dood en die doderyk het die dode gegee wat daarin was; en hulle is geoordeel, elkeen volgens sy werke.  14  En die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.  15  En as dit bevind is dat iemand nie opgeskryf was in die boek van die lewe nie, is hy in die poel van vuur gewerp.

Diegene wat nie nou die stem van God kan hoor nie (omdat hulle nie nou geoordeel word nie), sal verskyn in die “tweede dood“-oordeel – hulle is die tweede groep wat sal leer dat die dood ook aan hulle behoort het. Die “tweede dood” word duidelik deur die Skrifte gedefinieer:

“…die dood en die doderyk is in die poel van vuur gewerp. Dit is die tweede dood.

Deur die oordeel van God leer elke persoon om reg van verkeerd te skei – om die lewe van die dood te skei:

Jes 26:9  …as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Diegene wie deur die tweede dood moet gaan, word geoordeel in die poel van vuur en dit deur daardie oordeel dat hulle dan ook die ware geestelike lewe van God ontvang. Hierdie tweede groep sal in die poel van vuur-oordeel vir die eerste keer regtig weet wat die dood is, en wat die lewe is. Daar sal hulle sterf vir die ou Adam-lewe en sy doodsdenke, en oorgebring word tot die ware lewe in Jesus Christus. Daarom sal elke knie buig en elke tong bely dat die ware lewe net verkrygbaar is deur Jesus Christus sodat hulle dan ook die gees van God deelagtig kan word, en Jesus as Here erken!

Fil 2:9-11  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,  10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,  11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

1Kor 12:3  Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.

Alle vorme van dood (selfs die “tweede dood”) sal uitgewis word – die poel van vuur sal sy doel uitdien! Die poel van vuur is NIE EWIG nie! Wanneer almal die lewe in gees van die Vader ontvang, dan sal daar geen dood in die hele skepping van God wees nie:

1Kor 15:26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.

Dit is wat “onsterflikheid” beteken, dit is nou in Jesus Christus alleenlik, en Hy sal hierdie onsterflikheid (sonder enige vorm van dood) aan almal skenk!

1Ti 6:13-16  Ek gebied jou voor die aangesig van God wat aan alle dinge die lewe gee, en van Christus Jesus wat voor Pontius Pilatus die goeie belydenis betuig het,  14  dat jy die gebod onbevlek, onberispelik bewaar tot by die verskyning van onse Here Jesus Christus  15  wat op sy eie tyd vertoon sal word deur die salige en enigste Heerser, die Koning van die konings en Here van die here,  16  wat alleen onsterflikheid besit en ‘n ontoeganklike lig bewoon, wat geen mens gesien het of kan sien nie, aan wie toekom eer en ewige krag. Amen.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.