‘Alles behoort aan julle’ – Die wêreld (Deel 2)

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Inleiding

Hierdie hele skepping “is aan die nietigheid onderworpe” van die begin af, soos die Skepper dit dan ook aan tydelikheid blootstel…

Rom 8:20 Want die skepping is aan die nietigheid onderworpe nie gewillig nie, maar ter wille van hom wat dit onderwerp het

Die mens is ook aan hierdie nietigheid onderworpe want ons word eers geskep in tydelike vlees (die “eerste Adam”). Dit is eers nadat ons die eerste Adam en sy tydelikheid ervaar het, dat God ons almal in gees sal herskep. Die “laaste Adam” (Jesus Christus) sal aan almal wat deur die eerste Adam gekom het, die ware lewe in volheid van God se gees skenk, volgens die Skrifte…

1Kor 15:45-49  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

1Kor 15:22  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;

Hierdie aardse tydelike bestaan is inderdaad ‘n “moeilike taak” wat God aan die mens gee.

Pred 1:13  En ek het my hart daarop gerig om met wysheid te ondersoek en na te speur alles wat onder die hemel gebeur. Dit is ‘n moeilike taak wat God aan die mensekinders gegee het om hulle daarmee te kwel.

Dieselfde “lot” tref almal – aan ons almal in die aardse Adam (die vlees en sy denke) sal die geestelike lewe in die “laaste Aadm” (die wese en denke van die hemelse Christus) geskenk word:

Pred 9:2  Alles is gelyk vir almal: een en dieselfde lot is daar vir die regverdige en die goddelose, vir die goeie en die reine en die onreine, en vir hom wat offer en vir hom wat nie offer nie, die goeie ewe goed as die sondaar, vir hom wat sweer ewe goed as vir hom wat bang is vir ‘n eed.

Daar is egter ‘n orde aan verbonde…

1Kor 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  27  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  28  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Om Paulus se woorde in die gedeelte op te som vind daar drie stappe plaas om alles in gees te skep (“sodat God alles in almal kan wees”):

  1. eerstens het Christus self hierdie proses deurgegaan. Hy het in vlees gekom en toe gesterf en was toe opgewek in gees;
  2. daarna volg diegene wat aan Christus behoort by Sy koms. Hulle is die klein groepie uitverkorenes wat in hierdie aardse lewe reeds die geloof geskenk word om hierdie groot werk van God te verstaan en saam met Christus te werk t.o.v. die volgende groep wat sal inkom in God se geestelike koninkryk;
  3. Daarna volg die groot getal van alle mense wat ook God se gees deelagtig sal word.

Fil 2:9-11  Daarom het God Hom ook uitermate verhoog en Hom ‘n naam gegee wat bo elke naam is,  10  sodat in die Naam van Jesus sou buig elke knie van die wat in die hemel en die wat op die aarde en die wat onder die aarde is,  11  en elke tong sou bely dat Jesus Christus die Here is tot heerlikheid van God die Vader.

1Kor 12:3  Daarom maak ek julle bekend dat niemand wat deur die Gees van God spreek, Jesus ‘n vervloeking noem nie; en niemand kan sê dat Jesus die Here is nie, behalwe deur die Heilige Gees.

Die vlees is dus ons eerste “woning”, ook as ‘n tentwoning beskryf in die Skrifte, voordat ons in ons ewige woning (in gees) opgeneem sal word:

2Kor 5:1-10 Want ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons ‘n gebou het van God, ‘n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele.  2  Want om hierdie rede sug ons ook en verlang om met ons woning uit die hemel oorklee te word,  3  as ons ten minste gekleed en nie naak bevind sal word nie.  4  Want ons wat nog in die tent is, sug en voel beswaard, omdat ons liewer nie ontklee nie, maar oorklee wil word, sodat die sterflike deur die lewe verslind kan word.  5  Maar Hy wat ons juis hiervoor toeberei het, is God, wat ons ook die Gees as onderpand gegee het.  6  Daarom het ons altyd goeie moed en weet dat as ons in die liggaam inwoon, ons van die Here uitwoon.  7  Want ons wandel deur geloof en nie deur aanskouing nie.  8  Maar ons het goeie moed en verkies om liewer uit die liggaam uit te woon en by die Here in te woon.  9  Daarom lê ons ons ook ywerig daarop toe, of ons inwoon of uitwoon, om Hom welbehaaglik te wees.  10  Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.

Ons is eers onvolwasse in die geestelike dinge van God want ons is aanvanklik vleeslik georiënteerd en ons fokusse is op aardse en tydelike dinge. Dit is ook wat ons sien in die gemeente in Korinthe in tyd van die apostel Paulus waar hy hulle bestraf om nie voort te leef in hul onvolwasse denke en optredes nie:

1Kor 3:1-3  En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.  2  Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,  3  omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?

Ons almal se geestelike insigte is eers beperk en eng, en ons oordeel volgens ons aardse vleeslike denke, voordat ons die groter plan van God kan sien. Die gemeente in Korinthe het gesukkel om verby hul eie geestelike blindekolle te kyk, en Paulus moes hulle streng aanspreek om op te groei in hul geestelike denke. Soos die natuurlike dinge ons leer, begin ons almal as babas, maar ons bly nie babas nie want ons groei tot volwassenheid!

1Kor 3:4-9  Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos—is julle nie vleeslik nie?  5  Wie is Paulus dan, en wie Apollos anders as dienaars deur wie julle gelowig geword het? En dit soos die Here aan elkeen gegee het.  6  Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei.  7  So is dan hy wat plant of hy wat natmaak, niks nie, maar God wat laat groei.  8  Maar hy wat plant en hy wat natmaak, is een, maar elkeen sal sy eie loon volgens sy eie arbeid ontvang.  9  Want ons is medewerkers van God; die akker van God, die gebou van God is julle.

‘n Volwassene in Christus weet dat ons medewerkers is saam met God! Ons almal maak deel uit van God se plan en werke in hierdie lewe, en ons sal almal in die geestelike gebou van God in Christus Jesus opgeneem word in die “orde” en op die tyd soos die Vader behaag.

1Kor 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  27  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  28  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

Elkeen moet sy plek en rol ken en daarin te vrede wees en opgroei. Ons waardeer elkeen se posisie en rol in die werk van God en ons leer ook so om almal te respekteer. As ons groei in geestelike volwassenheid, dan oordeel ons nie mense en die dinge van God volgens ons aardse opvattinge nie…

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Paulus noem dat die gelowiges in Korinthe moet leer uit alles wat God aan hulle toevertrou, dit sluit in mense sowel as omstandighede. Paulus noem dat hulle moet leer dat “alles aan hulle behoort”…

  • Paulus homself,
  • Apollos,

  • Céfas,

  • die wêreld,

  • lewe,

  • dood,

  • teenswoordige dinge,

  • toekomstige dinge

Ons het reeds gesels oor hoe die lewe van Paulus en Apollos aan die gemeente daar in Korinthe behoort het, en ook aan ons behoort, by die volgende skakels:

Die lewe van Paulus (Deel 1Deel 2Deel 3Deel 4Deel 5Deel 6Deel 7Deel 8)

Die lewe van Apollos

Die lewe van Céfas (Deel 1Deel 2Deel 3Deel 4Deel 5Deel 6)

Hoe behoort die wêreld aan ons?

Die apostel Johannes noem die volgende dinge wat in die wêreld is, en hoe ons “die wêreld” kan identifiseer…

1Jn 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  17  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Drie dinge staan uit in “die wêreld”…

  • die begeerlikheid van die vlees
  • die begeerlikheid van die oë
  • die grootsheid van die lewe

Interessant om op te let is dat hierdie drie dinge ook in Adam en Eva se harte was nog voor hulle oortree het deur te eet van die verbode vrugte. Kyk net hier wat het Eva ervaar in haar denke voor sy uitgereik het om te pluk van die verbode boom se vrugte:

Gen 3:6  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet [“die begeerlikheid van die vlees”] en dat hy ‘n lus was vir die oë [“die begeerlikheid van die oë”], ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry [“die grootsheid van die lewe”]; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Ons sien dat Satan ook vir Jesus deur hierdie drie versoekings probeer vang het, maar Jesus het geweet hoe om Satan te weerstaan en ons leer dan ook hoe ons self hierdie wêreld kan oorwin:

Mat 4:3-10  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.  4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.  5  Toe neem die duiwel Hom saam na die heilige stad en laat Hom op die dak van die tempel staan  6  en sê vir Hom: As U die Seun van God is, werp Uself af; want daar is geskrywe: Hy sal sy engele bevel gee aangaande U, en hulle sal U op die hande dra, sodat U nie miskien u voet teen ‘n klip stamp nie.  7  Jesus sê vir hom: Daar is óók geskrywe: Jy mag die Here jou God nie versoek nie.  8  Weer neem die duiwel Hom saam na ‘n baie hoë berg en wys Hom al die koninkryke van die wêreld en hulle heerlikheid,  9  en sê vir Hom: Al hierdie dinge sal ek aan U gee as U neerval en my aanbid.  10  Toe sê Jesus vir hom: Gaan weg, Satan! want daar is geskrywe: Die Here jou God moet jy aanbid en Hom alleen dien.

Ons kyk in hierdie studie na die begeerlikheid van die vlees, want die boom is tot vandag net so begeerlik en “goed…om van te eet”. Die boom verteenwoordig ons eie vlees en ons liefde vir onsself.

Efes 5:29 want niemand het ooit sy eie vlees gehaat nie, maar hy voed en koester dit…

Die begeerlikheid van die vlees

Presies dieselfde dinge wat in die wêreld is, was reeds in Eva se hart, en Adam het ook geen probleem gehad om deel te neem nie.

1Jn 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  17  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Die boom was “goed om van te eet” verbind aan die begeerlikheid van die vlees. Dit was die eerste aspek wat uitstaan in hul denke en optrede. Voedsel was eerste in hul begeerlikhede. Hulle vlees was begerig om te eet. Voedsel speel ‘n belangrike rol in mense se lewe. Dit is ‘n primêre behoefte vir mens, maar tog is daar ook ‘n gevaar daarin. Ons moet eet om te leef, maar nie leef om te eet nie, lui die gesegde. Die laasgenoemde is egter die groot probleem in mense se lewens – mense leef om te eet! Genot is die fokus en die mens wil die goeie dinge op aarde geniet! Babas leef om te eet, en alles wat hulle in hul hande kry gaan mond toe. Ons eerste aardse god is ons buik, en dit lui tot ons eie skande. In ‘n geestelike sin is ons buik ‘n verwysing na ons vlees se aardse begeertes:

Fil 3:18-19  Want baie—van wie ek julle dit dikwels gesê het en nou ook onder trane sê—wandel as vyande van die kruis van Christus.  19  Hulle einde is die verderf, hulle god is die buik en hulle eer is in hulle skande; hulle bedink aardse dinge.

Die slang was aangesê deur God om op sy buik te seil – Satan is ‘n stof-eter en dit beteken hy versoek en verlei die mens volgens hul aardse begeertes:

Gen 3:14  Toe sê die HERE God aan die slang: Omdat jy dit gedoen het, is jy vervloek onder al die vee en al die diere van die veld. Op jou buik moet jy seil, en stof moet jy eet al die dae van jou lewe.

Natuurlike slange is karnivore, maar die geestelike slang, Satan, eet stof. Daardie “stof” is mense:

Gen 2:7  En die HERE God het die mens geformeer uit die stof van die aarde en in sy neus die asem van die lewe geblaas. So het dan die mens ‘n lewende siel geword.

In ons tyd van onvolwassenheid is die fokus van die vlees op vrolikheid en genot van aardse dinge. God gee ons oor aan die drange van ons eie hart en sy bedrog, tot op die dag wanneer ons daarvan verlos sal word deur Sy oordeel!

Pred 11:9  Verbly jou, o jongeling, in jou jeug en laat jou hart jou vrolik maak in die dae van jou jonkheid; en wandel in die weë van jou hart en in die aanskouing van jou oë; maar weet dat God jou oor al hierdie dinge in die gerig sal bring.

Die vlees is egter ‘n onversadigbare bodemlose put, en niks in hierdie fisiese skepping kan daardie put vul en bevredig nie! Kyk wat skryf Salomo aan die einde van sy lewe. Gedurende sy lewe het Salomo alles gekry wat sy oë gesien en begeer het…

Pred 1:1-11  Die woorde van die Prediker, die seun van Dawid, die koning in Jerusalem.  2  Alles tevergeefs, sê die Prediker, alles tevergeefs, dit is alles tevergeefs!  3  Watter voordeel het die mens van al sy moeite waarmee hy hom vermoei onder die son?  4  Die een geslag gaan, en die ander geslag kom, en die aarde bly vir ewig staan.  5  En die son gaan op, en die son gaan onder, en hy hyg na die plek waar hy opgaan.  6  Die wind gaan na die suide en slaan om na die noorde, gaan altyddeur rond, en die wind keer na sy kringloop terug.  7  Al die strome loop in die see, en tog word die see nie vol nie; na die plek waarheen die riviere loop, daarheen loop hulle altyd weer.  8  Al die dinge is so vermoeiend, geen mens kan dit uitspreek nie; die oog kry nie genoeg van sien nie, en die oor word nie vol van hoor nie.  9  Wat gewees het, dit sal daar weer wees; en wat gebeur het, dit sal weer gebeur, en daar is glad niks nuuts onder die son nie.  10  Is daar iets waarvan ‘n mens kan sê: Kyk hier, dit is nuut? Dit was lankal daar in die ou tyd wat voor ons gewees het.  11  Daar is geen nagedagtenis van die voorvaders nie; en ook van die nageslagte wat kom, sal daar geen nagedagtenis wees by die wat later sal wees nie.

Dit is die toestand waarin alle vleeslike mense hulself bevind. Veral wanneer ons “jonk” is (onvolwasse in geestelike dinge), dan sien die mens glad nie hierdie onvergenoegdheid van die vlees raak nie. Hierdie onvergenoedheid van die vlees is bodemloos. In Grieks is hierdie bodemlose put die “abussos” genoem, en dit word vertaal in Afrikaans as “die afgrond” (Rom 10:7; Open 9:1-2; Open 9:11; Open 17:7-8; Open 20:1; Open 20:3) en “die onderwêreld” (Luk 8:31). Hier is die geestelike toestand van die “abussos” vir ons verduidelik in die volgende verse:

Rom 10:6-10  Maar die geregtigheid wat uit die geloof is, sê dit: Moenie in jou hart sê nie: Wie sal in die hemel opvaar, naamlik om Christus af te bring;  7  of: Wie sal in die afgrond [Grieks “abussos”] neerdaal, naamlik om Christus uit die dode op te bring?  8  Maar wat sê dit? Naby jou is die woord, in jou mond en in jou hart. Dit is die woord van die geloof wat ons verkondig:  9  As jy met jou mond die Here Jesus bely en met jou hart glo dat God Hom uit die dode opgewek het, sal jy gered word;  10  want met die hart glo ons tot geregtigheid en met die mond bely ons tot redding.

Die “afgrond” (Grieks “abussos”) is die doderyk in ons, en dit is wat vlees se geestelike toestand is. Hierdie afgrond / onderwêreld is ons vlees en sy denke – dit is verdorwe (ongeneeslik siek)!

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Dit is die “hart” waaruit alles wat ons dink en doen voortspruit.

Spr 4:23  Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe..

Hierdie aardse “hart” is ook genoem “wêreldvloed” wat “woes en leeg” is (onvervuld), en dit is waar die duisternis heers, onder God se beheer. Die Hebreeuse woord is “tehôm” (Grieks is “abussos”), en ons lees reeds hiervan op die skeppingsdag een…

Gen 1:2  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed [Hebreeus: “tehôm”; Grieks is “abussos”], en die Gees van God het gesweef op die waters.

Gen 1:2 KJV  And the earth was without form, and void; and darkness was upon the face of the deep [Hebrew: “tehôm”; Greek is “abussos”]. And the Spirit of God moved upon the face of the waters.

Die Here is inderdaad in volle beheer van die “wêreldvloed” in ons diep bodemlose put, en Hy het dit daargestel in die begin – ook binne-in Adam en Eva, en dan ook in elke mens:

Psa 135:6  Alles wat die HERE behaag, doen Hy, in die hemel en op die aarde, in die seë en al die dieptes [Hebreeus: “tehôm”; Grieks is “abussos”].

Spr 3:19-20  Die HERE het deur wysheid die aarde gegrond, deur verstand die hemele vasgestel;  20  deur sy kennis het die watervloede [Hebreeus: “tehôm”; Grieks is “abussos”] oopgebreek en het die wolke dou gedrup.

Psa 33:6-7  Deur die Woord van die HERE is die hemele gemaak en deur die Gees van sy mond hulle hele leër.  7  Hy versamel die waters van die see soos ‘n hoop; Hy bêre die wêreldvloede [Hebreeus: “tehôm”; Grieks is “abussos”] weg in skatkamers.

Jes 51:10  Is dit nie u wat die see, die waters van die groot wêreldvloed [Hebreeus: “tehôm”; Grieks is “abussos”] drooggemaak het nie, wat van die dieptes van die see ‘n pad gemaak het vir die deurtog van die verlostes nie?

Dit het die Here behaag om hierdie diepte van duisternis in elke mens te skep soos ons reeds gesien het in Adam en Eva se lewe, voordat hulle gesondig het:

Jes 45:5-7  Ek is die HERE, en daar is geen ander nie; buiten My is daar geen God nie; Ek omgord jou, hoewel jy My nie geken het nie,  6  sodat hulle kan weet van die opgang van die son en van sy ondergang af dat daar buiten My geeneen is nie; Ek is die HERE, en daar is geen ander nie;  7  wat die lig formeer en die duisternis skep, die heil bewerk en die onheil skep: Ek, die HERE, is dit wat al hierdie dinge doen.

God se wysheid word nie gevind binne hierdie donker diepte nie – ons sien dit ook in Adam en Eva se denke en optrede reg aan die begin:

Job 28:12-14  Maar die wysheid—waar word dit gevind? En waar is die plek van verstand?  13  Die mens ken nie die waarde daarvan nie, en dit word in die land van die lewende nie gevind nie.  14  Die wêreldvloed sê: In my is dit nie; en die see sê: By my is dit nie.

Dit is in hierdie diep duisternis in ons waar God die seediere (ook die Leviátan / die seeslang / seemonster / die draak) se tuiste gemaak het!

Gen 1:21  En God het die groot seediere [Hebreeus: tannı̂ym = seemonster /seedraak] geskape en al die lewende wesens wat beweeg, waar die waters van wemel, volgens hulle soorte…

Jes 27:1  In dié dag sal die HERE met sy harde en groot en sterk swaard besoeking doen oor die Leviátan, die vinnige slang, en oor die Leviátan, die kronkelende slang; en Hy sal die draak doodmaak wat in die groot water is.

Ons diepte is eers gevul met duisternis en al hierdie skepsels wat binne ons vlees en sy denke opereer. Hulle doel en funksie is om ons te verblind vir die geestelike dinge van God. Ons kan nie God se geestelike lig sien nie want ons eie vleeslike begeertes en valse leerstellings blokeer die lig, volgens God se wil.

2Kron 7:13  As Ek die hemel toesluit, dat daar geen reën is nie, of as Ek die sprinkaan beveel om die land af te eet, of as Ek pes onder my volk stuur.

Dit is eers wanneer God ons Sy geloof skenk in Christus om deur Sy oordeel die lig te ervaar, dat ons sal sien hoe blind ons was, en dit is ook wat die apostel Johannes in hierdie beeldspraak aan ons wil wys…

Open 9:1-3  En toe die vyfde engel blaas, sien ek ‘n Ster wat uit die hemel op die aarde geval het, en aan hom is die sleutel van die put van die afgrond gegee.  2  En hy het die put van die afgrond oopgemaak, en daar het rook opgekom uit die put soos rook van ‘n groot oond, en die son en die lug is deur die rook van die put verduister.  3  En uit die rook het daar sprinkane uitgekom op die aarde, en aan hulle is mag gegee soos die skerpioene van die aarde mag het.

In die boek van Openbaring kom veral baie simboliek voor en ons raak net kortliks aan wat hierdie simbole volgens die Skrifte aan ons uitwys. Rook, sprinkane en skerpioene het alles te doen met alles wat in ons “diepte” (die afgrond / die bodemlose put) is. Ons aardse denke is gevul met al sy valse menslike filosofieë en valse godsdiens-leerstellings. Skerpioene het giftige sterte en in geestelike terme is dit ‘n verwysing na die valse profete met hul valse leerstellings. Hierdie skerpioene en hul woorde bring uiteindelik pyn en smarte in ons lewens, veral wanneer God se oordeel hulle tref en uitwis. God se oordeel is egter ‘n baie goeie pyn – dit maak ons geestelik gesond en bring God se geregtigheid in ons lewe (Jes 26:9; Heb 12:6). Die vyande van die waarheid fokus op vlees en hulle het ‘n vleeslike evangelie. Hulle is gedurig op die oorlogspad (aangedui deur die simboliek van perde) om die Lig aan te val en die kinders van God te vervolg en te verskeur (“leeus”). Maar God sal triomfeer oor elke leuen (“yster”) en valse leerstelling (“hare”)!

Open 9:7-10  En die voorkoms van die sprinkane was soos dié van perde wat vir die oorlog toegerus is, en op hulle koppe was iets soos krone wat net soos goud gelyk het, en hulle gesigte was soos die gesigte van mense.  8  En hulle het hare gehad soos vrouehare, en hulle tande was soos dié van leeus.  9  En hulle het borsharnasse gehad soos van yster, en die gedruis van hulle vlerke was soos die gedruis van baie strydwaens met perde wat opruk na die oorlog.  10  En hulle het sterte gehad soos dié van skerpioene, en daar was angels in hulle sterte, en hulle mag was om die mense vyf maande lank skade aan te doen.

Jes 9:13-15  Daarom sny die HERE van Israel af kop en stert, palmtak en biesie, op een dag.  14  Die oudste en aansienlike, dié is die kop, en die profeet wat leuens profeteer, dié is die stert;  15  en die leiers van hierdie volk het verleiers geword, en dié van hulle wat gelei word, is op ‘n dwaalweg gebring.

Deur God se oordeel oor ons vlees en al sy bedrog sien ons die Lig en die duisternis word weggeneem. Die bedrog van die vlees en die verdorwenheid van die aardse denke word vernietig, en die waarheid van die gees van God seëvier!

Joe 2:24-25  Dan sal die dorsvloere vol koring wees en die parskuipe van mos en olie oorloop.  25  En Ek sal julle vergoed die jare wat die treksprinkaan, die voetganger, die kaalvreter en die afknyper verslind het—my groot leërmag wat Ek teen julle gestuur het.

Luk 10:17-20  En die sewentig het met blydskap teruggekom en gesê: Here, ook die duiwels onderwerp hulle aan ons in u Naam.  18  Toe sê Hy vir hulle: Ek het die Satan soos ‘n bliksem uit die hemel sien val.  19  Kyk, Ek gee aan julle die mag om op slange en skerpioene te trap, en oor al die krag van die vyand; en niks sal julle ooit skade doen nie.  20  Maar julle moenie daaroor bly wees dat die geeste aan julle onderworpe is nie, maar wees liewer bly dat julle name in die hemele opgeskrywe is.

Jes 9:17-18  Want die goddeloosheid brand soos vuur; dit verteer dorings en distels en steek die digte takke van die bos aan die brand, sodat hulle in ‘n rookpilaar opstyg.  18  Deur die grimmigheid van die HERE van die leërskare staan die land in vlamme en het die volk geword soos ‘n prooi van die vuur; die een spaar die ander nie.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.