‘Alles behoort aan julle’ – Die wêreld (Deel 1)

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Die gemeente in Korinthe word algemeen geken as die gemeente wat uitgewys was deur die apostel Paulus in terme van hul onvolwassenhed in die geestelike dinge van God:

1Kor 3:1-4  En ek, broeders, kon met julle nie spreek soos met geestelike mense nie, maar soos met vleeslike, soos met klein kinders in Christus.  2  Ek het julle met melk gevoed, nie met vaste spys nie, want julle was nog nie daartoe in staat nie, en julle is nou nog nie daartoe in staat nie,  3  omdat julle nog vleeslik is; want aangesien daar onder julle jaloersheid en twis en tweedrag is, is julle nie vleeslik nie en wandel julle nie na die mens nie?  4  Want as die een sê: Ek is van Paulus; en die ander: Ek van Apollos—is julle nie vleeslik nie?

Hul onvolwassenheid was uitgebeeld op baie maniere, maar veral deur hul groepvorming. Jesus se liggaam is ‘n eenheid en word nie verdeel in stukke as gevolg van menslike opvattinge, of verskille in geografie, kultuur, taal, volk of nasie nie:

Open 5:9-10  Toe sing hulle ‘n nuwe lied en sê: U is waardig om die boek te neem en sy seëls oop te maak, want U is geslag en het ons vir God met u bloed gekoop uit elke stam en taal en volk en nasie,  10  en het ons konings en priesters vir onse God gemaak, en ons sal as konings op die aarde heers.

Die gemeente van Christus weet ook dat hulle van alles leef wat God in hul boeke geskryf het nog voor hierdie skepping voortgebring was. Aan God is al Sy werke van die voortyd af bekend!

Psa 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie. 

Hand 15:18  Aan God is al sy werke van ewigheid af bekend.

Ons lewe inderdaad van elke woord uit God se mond, en alles wat neergeskryf is in die Skrifte het ‘n persoonlike toepassing op onsself.

Mat 4:1-4  Toe is Jesus deur die Gees weggelei die woestyn in om versoek te word deur die duiwel.  2  En nadat Hy veertig dae en veertig nagte gevas het, het Hy naderhand honger geword.  3  En die versoeker het na Hom gekom en gesê: As U die Seun van God is, sê dat hierdie klippe brode word.  4  Maar Hy antwoord en sê: Daar is geskrywe: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.

Alles wat God laat neerskryf het in die Skrifte, is van groot belang as ons Jesus se woorde wat in Mattheus 4 vers 4 ernstig opneem. Ons moet noukeurig daarop ag slaan, soos Petrus ook beaam:

2Pe 1:19-21 En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ‘n lamp wat in ‘n donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die môrester opgaan in julle harte;  20  terwyl julle veral dít moet weet, dat geen profesie van die Skrif ‘n saak van eie uitlegging is nie;  21  want geen profesie is ooit deur die wil van ‘n mens voortgebring nie, maar, deur die Heilige Gees gedrywe, het die heilige mense van God gespreek.

Paulus het dan ook die volgende vermaning aan die gemeente in Korinthe gerig, en hierdie vermaning geld ook vir ons as ons dink dat ons enigiets wat God in ons boeke geskryf het kan ontsnap:

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Ons het reeds gesels oor hoe die lewe van Paulus en Apollos aan die gemeente daar in Korinthe behoort het, en ook aan ons behoort, by die volgende skakels:

Die lewe van Paulus (Deel 1Deel 2Deel 3Deel 4Deel 5Deel 6Deel 7Deel 8)

Die lewe van Apollos

Die lewe van Céfas (Deel 1; Deel 2; Deel 3; Deel 4; Deel 5; Deel 6)

Paulus noem ook in ons sleutelteks dat “die wêreld” aan ons behoort. Hoe behoort die wêreld aan ons? Ons kan verseker weet dat Paulus nie bedoel het dat mense moet dink dat hulle hulself moet verlekker in wêreldse dinge nie, en na aardse rykdomme en genietinge moet steef nie, soos baie dit ook preek in hul voorspoed-evangelie boodskappe (“prosperity gospel”) waarin hulle die ware evangelie van Christus verdraai en daaruit handelswins bedryf nie:

2Kor 2:17  Want ons is nie soos baie wat handel dryf met die woord van God nie; maar as opregtheid, maar as uit God, in die teenwoordigheid van God, spreek ons in Christus.

Die apostel Johannes noem die volgende dinge wat in die wêreld is, en hoe ons “die wêreld” kan identifiseer…

1Jn 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  17  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

Drie dinge staan uit in “die wêreld”…

  • die begeerlikheid van die vlees

  • die begeerlikheid van die oë

  • die grootsheid van die lewe

Die probleem is dat ons wel aanvanklik die wêreld en sy dinge liefhet, want dit is die dinge wat van ons skepping in ons eie harte gevind word. Ons was so gemaak deur God, en Adam en Eva wys dit vir ons reg aan die begin, nog voordat hulle aan die verbode boom en sy vrugte gevat of geëet het – let op hoe dit ooreenstem met “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe”:

Gen 3:6  Toe sien die vrou dat die boom goed was om van te eet [“die begeerlikheid van die vlees”] en dat hy ‘n lus was vir die oë [“die begeerlikheid van die oë”], ja, ‘n boom wat ‘n mens kan begeer om verstand te verkry [“die grootsheid van die lewe”]; en sy neem van sy vrugte en eet en gee ook aan haar man by haar, en hy het geëet.

Adam en Eva se harte was reeds vol van die wêreld en sy sonde voor hulle die daad gepleeg het!

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Wie ken die mens se hart? Net God ken dit:

Psa 139:1-6  Vir die musiekleier. ‘n Psalm van Dawid. HERE, U deurgrond en ken my.  2  U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte.  3  U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend.  4  Want daar is nog geen woord op my tong nie—of U, HERE, U ken dit geheel en al.  5  U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my.  6  Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.

Ons kan met sekerheid sê dat Adam en Eva nie geweet het wat in hul eie harte was nie! Die volgende woorde bewys dat hulle nie eens hul eie uiterlike naaktheid kon sien nie, wat nog van hul innerlike naaktheid:

Gen 3:7  Toe gaan altwee se oë oop, en hulle word gewaar dat hulle naak is; en hulle het vyeblare aanmekaargewerk en vir hulle skorte gemaak.

God het hulle so gemaak, en Hy is nie skaam om dit te erken nie. Ons aardse mens, die eerste Adam, is geskep deur God, en ons het almal “in die hand van die Pottebakker” misluk!

Jer 18:1-4  Die woord wat van die HERE tot Jeremia gekom het:  2  Maak jou klaar en gaan af na die huis van die pottebakker, en daar sal Ek jou my woorde laat hoor.  3  Toe het ek afgegaan na die huis van die pottebakker, en hy was juis besig om ‘n stuk werk op die skywe te maak.  4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Die Pottebakker het dit doelbewus so gemaak en ons natuurlike “mens van sonde” (2Thes 2:3) wil dit nie aanvaar dat God doelbewus ‘n mislukking maak nie. 

Rom 3:10-18  soos geskrywe is: Daar is niemand regverdig nie, selfs nie een nie.  11  Daar is niemand wat verstandig is nie, daar is niemand wat God soek nie.  12  Hulle het almal afgewyk, saam het hulle ontaard. Daar is niemand wat goed doen nie, daar is selfs nie een nie.  13  Hulle keel is ‘n oop graf, met hul tonge pleeg hulle bedrog, die gif van adders is onder hulle lippe.  14  Hulle mond is vol vervloeking en bitterheid.  15  Haastig is hulle voete om bloed te vergiet.  16  Verwoesting en ellende is in hulle paaie,  17  en die weg van vrede ken hulle nie.  18  Daar is geen vrees van God voor hulle oë nie.

Rom 3:23  want almal het gesondig en dit ontbreek hulle aan die heerlikheid van God.

Die natuurlike mens “ontbreek…aan die [geestelike] heerlikheid [en volmaaktheid] van God”. Dit is wat naaktheid in ‘n geestelike sin beteken. Daarom het ons natuurlike mens en sy aardse denke nie die vermoë om God se groot plan te sien nie:

1Kor 2:14  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

Maar as God ons geestelike oë begin oopmaak, dan sien ons wat God besig is om te doen deur al die mislukkings in en rondom ons:

1Kor 2:15-16  Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.  16  Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

Jer 18:4  En die voorwerp wat hy besig was om te maak, het misluk—soos dit gaan met klei in die hand van die pottebakker—maar hy het daaruit weer ‘n ander voorwerp gemaak soos dit in die oë van die pottebakker reg was om dit te maak.

Ons misluk “in die hand van die Pottebakker”! Jesaja stel dit as volg…

Jes 63:17  HERE, waarom laat U ons wegdwaal van u weë? Waarom verhard U ons hart, sodat ons U nie vrees nie? Keer terug ter wille van u knegte, die stamme van u erfdeel!

Die Here sal inderdaad terugkeer! Net soos Jeremia ook aandui is daar ‘n tweede pot wat God maak. Die eerste pot is beslis nie die finale pot nie! Die eerste Adam is nie die laaste Adam nie! 

1Kor 15:45-50  So is daar ook geskrywe: Die eerste mens, Adam, het ‘n lewende siel geword; die laaste Adam ‘n lewendmakende Gees.  46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.  50  Maar dit verklaar ek, broeders, dat vlees en bloed die koninkryk van God nie kan beërwe nie; ook beërwe die verganklikheid nie die onverganklikheid nie.

As mense dit uitvind dat God die groot Pottebakker is wat ons eers in ‘n swak vlees en bloed toestand skep, en dan nog fout vind met ons, dan vra hy…

Rom 9:19  Jy sal dan vir my sê: Waarom verwyt Hy dan nog, want wie het sy wil weerstaan?

Paulus wys dan die weg na wysheid…

Rom 9:20-23  Maar tog, o mens, wie is jy wat teen God antwoord? Die maaksel kan tog nie vir die maker sê: Waarom het u my so gemaak nie?  21  Of het die pottebakker nie mag oor die klei, om uit dieselfde klomp die een voorwerp tot eer en die ander tot oneer te maak nie?  22  En as God, al wil Hy sy toorn bewys en sy mag bekend maak, tog met groot lankmoedigheid die voorwerpe van toorn wat vir die verderf toeberei is, verdra het,  23  juis om bekend te maak die rykdom van sy heerlikheid oor die voorwerpe van barmhartigheid wat Hy voorberei het tot heerlikheid.

Ons almal vra hierdie vrae vir die Here dwarsdeur ons lewe…Here waarom het U my so gemaak?….Here waarom is U hand so swaar op my? Dit is omdat ons eerste gemaak is in ‘n tydelike skepping en ons hart (denke en hele wese) is vol bedrog…

Jer 17:9  Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit; wie kan dit ken?

Ons moet eers die donkerte leer ken sodat ons die Lig kan verstaan…

Gen 1:2-5  En die aarde was woes en leeg, en duisternis was op die wêreldvloed, en die Gees van God het gesweef op die waters.  3  En God het gesê: Laat daar lig wees! En daar was lig.  4  Toe sien God dat die lig goed was. En God het skeiding gemaak tussen die lig en die duisternis;  5  en God het die lig dag genoem, en die duisternis het Hy nag genoem. En dit was aand en dit was môre, die eerste dag.

Die wêreld en alles daarin is deel van ons eie lewe, en dit behoort aan ons en ons moet daardeur leer. Ons lewe eers in die wêreld en ons is slawe van ons vlees en sy begeerlikhede – “die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe”. Ons eie begeerlikhede sleep ons weg in versoekings wat ons nie kan weerstaan nie, en dit lei na ons dood.

Jak 1:13-15  Laat niemand, as hy in versoeking kom, sê: Ek word deur God versoek nie. Want God kan deur die kwaad nie versoek word nie, en self versoek Hy niemand nie.  14  Maar elkeen word versoek as hy deur sy eie begeerlikheid weggesleep en verlok word.  15  Daarna, as die begeerlikheid ontvang het, baar dit sonde; en as die sonde tot volle ontwikkeling gekom het, bring dit die dood voort.

God het die hele proses onder beheer, want “alles is uit God”. Ons leer om Hom te vertrou, want Hy weet wat Hy doen. Hy sal ons inderdaad red en weer alles nuut maak…

2Kor 5:17-21  Daarom, as iemand in Christus is, is hy ‘n nuwe skepsel; die ou dinge het verbygegaan, kyk, dit het alles nuut geword.  18  En dit alles is uit God wat ons met Homself versoen het deur Jesus Christus en ons die bediening van die versoening gegee het,  19  naamlik dat God in Christus die wêreld met Homself versoen het deur hulle hul misdade nie toe te reken nie en die woord van die versoening aan ons toe te vertrou.  20  Ons tree dan op as gesante om Christus wil, asof God deur ons vermaan. Ons bid julle om Christus wil: Laat julle met God versoen.  21  Want Hy het Hom wat geen sonde geken het nie, sonde vir ons gemaak, sodat ons kan word geregtigheid van God in Hom.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.