Die waarheid oor Lasarus en die ryk man (Deel 7)

In die boek van Genesis het God talle beginsels neergelê vir die wat oë gegee is om dit kan sien. Een van die beginsels is dat die aardse mens sekerlik sal sterwe want ‘die loon van die sonde is die dood’:

Gen 2:17  maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Rom 6:23 Want die loon van die sonde is die dood, maar die genadegawe van God is die ewige lewe in Christus Jesus, onse Here.

Adam en Eva is nog steeds dood vandag omdat hulle God se gebod oortree het, en nie in ‘n ewige helse vuur soos die afvalliges dit wil hê nie. Volgens die valse leerstelling van die afvallige Christendom verdien hulle die “ewige helse vuur” omdat hulle in hul sondige toestand gesterwe het. Een van die gedeeltes in die Skrifte wat misbruik word om die leerstelling van ‘n sogenaamde “ewige helse vuur” te staaf is die gelykenis van Lasarus en die ryk man. Maar die gelykenis het glad geensins betrekking op dit wat die afvalliges wil hê dit moet sê nie.

Hier is die gelykenis volledig:

Luk 16:19-31  En daar was ‘n ryk man, en hy het purper en fyn linne gedra en elke dag vrolik en weelderig gelewe.  En daar was ‘n bedelaar met die naam van Lasarus wat vol swere voor sy poort gelê het.  En hy het verlang om hom te versadig met die krummels wat van die ryk man se tafel val. Ja, selfs die honde het gekom en sy swere gelek.  En toe die bedelaar sterf, is hy deur die engele weggedra na die boesem van Abraham.  En die ryk man het ook gesterwe en is begrawe. En toe hy in die doderyk sy oë ophef, terwyl hy in smarte was, sien hy Abraham van ver af en Lasarus aan sy boesem.  En hy roep en sê: Vader Abraham, wees my barmhartig en stuur Lasarus, dat hy die punt van sy vinger in water kan insteek en my tong verkoel; want ek ly smarte in hierdie vlam.  Maar Abraham antwoord: Kind, onthou dat jy jou goeie dinge in jou lewe ontvang het, en so ook Lasarus die slegte. En nou word hy getroos, maar jy ly smarte.  En by dit alles is daar tussen ons en julle ‘n groot kloof gevestig, sodat die wat hiervandaan wil oorgaan na julle, nie kan nie; en die wat dáár is, nie na ons kan oorkom nie.  En hy sê: Ek bid u dan, vader, om hom na my vader se huis te stuur—  want ek het vyf broers—om hulle dringend te waarsku, sodat hulle nie ook in hierdie plek van pyniging kom nie.  Toe sê Abraham vir hom: Hulle het Moses en die Profete; laat hulle na dié luister.    Maar hy antwoord: Nee, vader Abraham, maar as iemand uit die dode na hulle gaan, sal hulle hul bekeer.  Maar hy sê vir hom: As hulle na Moses en die Profete nie luister nie, sal hulle nie oortuig word nie, al sou iemand ook uit die dode opstaan.

In dele 1 tot 6 tot dusver het ons die volgende vasgestel:

  • Jesus het die gelykenis op die Fariseers gemik omdat hulle geldgierig was en hulself hoër geag as ander;
  • Alle gelykenisse is van begin tot einde figuurlik en bevat belangrike geestelike waarhede wat die natuurlike mens se denke nie kan verstaan nie omdat dit geestelik beoordeel moet word;
  • Die ryk man verteenwoordig hulle wat deur God verblind word om te dink dat hulle geseënd is deur na hul fisiese besittings en posisie te kyk;
  • Die rykes se ‘tafel’ is inderwaarheid gedek met valse “seëninge” en leerstellings terwyl hulle niks dink van die “krummels” (die ware leerstelings van God) wat van hul tafels gevee word;
  • Die ryk man verteenwordig dus hulle wat God se Woord verdraai vir tydelike en persoonlike gewin;
  • Lasarus, staan teenoor die ryk man in hierdie gelykenis. Hy verteenwoordig hulle wie die ware kinders van God is al lyk dit nie so vir hulle wat tans in hierdie wêreld geseën word met fisiese dinge;
  • Lasarus word met honde geassosieer wat sere lek omdat hy as laer en  onbelangrik gesien word deur diegene wat hulleself verhoog en bestempel as God se uitverkorenes;
  • Lasarus verteenwoordig hulle wat verwerp word omdat hulle min in getal is en derhalwe nie geestelik verhewe kan wees as die baie hooggerespekteerde populêre leiers met hul kwalifikasies en ooglopende groot getal volgelinge nie;
  • Die konsep van ‘die boesem van Abraham’ bewys weereens dat hierdie ‘n figuurlike verhaal van begin tot einde is, en as geestelik gesien moet word want niemand wat sterf kan na die letterlike boesem van Abraham gaan nie;
  • Abraham homself het volgens die Skrifte self nog nie enige van God se geestelike beloftes ontvang nie en die naam Abraham in die verhaal is dus ‘n simboliese verwysing na hulle wat slegs deur geloof geregverdig word en nie deur eie werke nie;
  • Die ryk man was steeds geestelik dood op hierdie stadium (‘in die doderyk’) en dit is hierdie ‘dood en doderyk’ wat in die poel van vuur gegooi word by die groot wit-troon oordeel;
  • Dit is in die “tweede dood” of groot wit-troon oordeel waar die ryk man sy oë kan ophef soos almal wat nog geestelik dood geoordeel sal word om sodoende God se geregtigheid te leer;
  • Die vlam of vuur waarin die ryk man smarte verduur is dieselfde geestelike vuur, naamlik, die woord van God, waardeur almal met ‘n vleeslike natuurlike denke weergebore word om die geestelike denke van God te verkry.

Daar word in die gelykenis verwys na ‘n ‘groot kloof’ tussen diegene wat deur geloof God se geestelike werke aanvaar en hulle wat “ryk” is in hul eie werke van die vlees. Die ‘groot kloof’ wat in die gelykenis voorkom beeld dus uit die onoorbruglike skeiding wat bestaan tussen die gees en die vlees, en tussen geloof en ongeloof:

Joh 3:6 Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.

Dit is belangrik om te sien dat die ryk man geensins bewus was van hierdie ‘groot kloof’ nie, en dat dit Abraham was wat hom daarop moes wys. Die vleeslike denke in die ryk man (en alle natuurlike mense) kan nie die skeiding tussen die geestelike en die vleeslike sien nie, en is boonop totaal onbewus van sy eie blindheid in hierdie opsig. Dit is slegs die woord van God wat hierdie ‘groot kloof’ of skeiding tussen siel (aards) en gees (hemelse) duidelik maak:

Heb 4:12  Want die woord van God is lewend en kragtig en skerper as enige tweesnydende swaard, en dring deur tot die skeiding van siel en gees en van gewrigte en murg, en is ‘n beoordelaar van die oorlegginge en gedagtes van die hart.

Die natuurlike mens sien die geestelike slegs as “verheerlikte” natuurlike dinge. Die aardse mens wat dink dat hy geestelik kan sien “vergeestelik” natuurlike dinge en verdraai self hierdie belangrike vers:

Rom 1:20  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;

Die sigbare dinge het geen verband met ‘Sy onsigbare dinge’, maar word slegs gebruik deur God om dit VERSTAANBAAR te maak. Die natuurlike mens het ‘geen verontskuldiging’ in die verband nie omdat hy juis die vleeslike vergeestelik en selfs God dan in daardie “vorm” aanbid asof God vergelykbaar is met natuurlike dinge. Daar is dus geen verbintenis of raakpunte tussen die ‘heerlikheid’ van die tydelike skepping (dit sluit die vlees in) en die ‘heerlikheid’ van die gees nie:

1Pe 1:24  Want alle vlees is soos gras, en al die heerlikheid van die mens soos ‘n blom van die gras. Die gras verdor en sy blom val af,

2Kor 3:8  hoeveel te meer sal die bediening van die Gees dan nie in heerlikheid wees nie?

1Kor 15:43  daar word gesaai in oneer, daar word opgewek in heerlikheid; daar word gesaai in swakheid, daar word opgewek in krag.

Alle vleeslike denke, dit is die geestelike dood, sal vernietig word deur God se vuur-oordeel en ‘n nuwe (geestelike) lewe na vore bring vir elkeen van God se kosbare skepsels:

Rom 8:6-7  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.

1Kor 15:26-28  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

In deel 8 en deel 9 sal ons kyk na die ryk man se twee versoeke.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier and tagged , , , , , , . Bookmark the permalink.

Lewer kommentaar