Belangrike aspekte van die geloof van Christus – om waarlik ‘Christen’ te wees (Deel 3)

Geloof is sentraal in ons verhouding met God, want sonder geloof kan ons nie God behaag nie:

Heb 11:6  En sonder geloof is dit onmoontlik om God te behaag; want hy wat tot God gaan, moet glo dat Hy is en ‘n beloner is van die wat Hom soek.

Ons redding kom deur geloof en dit alles is nie te vinde in ons self nie:

Efes 2:8  Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie: dit is die gawe van God.

Soos alles wat ons het van God kom, so geld dit ook vir geloof. Niemand kan dus spog met hulle geloof nie en kan ook nie hul geloof vergelyk met ander se geloof of ongeloof nie. God gee aan elkeen volgens Sy besluit en Hy kan ook wegneem wat Hy gee:

Rom 11:34-36  Want wie het die gedagte van die Here geken, of wie was sy raadsman gewees?  Of wie het eers iets aan Hom gegee, dat dit hom vergeld moet word? Want uit Hom en deur Hom en tot Hom is alle dinge. Syne is die heerlikheid tot in ewigheid. Amen.

Job 1:21-22 en gesê: Naak het ek uit my moeder se skoot gekom, en naak sal ek daarheen terugkeer. Die HERE het gegee, en die HERE het geneem: die Naam van die HERE sy geloofd! By dit alles het Job nie gesondig en aan God niks ongerymds toegeskrywe nie.

God gebruik natuurlike beelde wat vir ons die geestelike dinge van God verstaanbaar maak. Die natuurlike beelde besit egter slegs verborge geestelike begrippe wat niks te doen het met “die gelykvormigheid van die beeld” self nie:

Rom 1:20-23  Want sy onsigbare dinge kan van die skepping van die wêreld af in sy werke verstaan en duidelik gesien word, naamlik sy ewige krag en goddelikheid, sodat hulle geen verontskuldiging het nie;  omdat hulle, alhoewel hulle God geken het, Hom nie as God verheerlik of gedank het nie; maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister.  Terwyl hulle voorgee dat hulle wys is, het hulle dwaas geword  en die heerlikheid van die onverganklike God verander in die gelykvormigheid van die beeld van ‘n verganklike mens en van voëls en viervoetige en kruipende diere.

Ons hou dus nie vas aan die natuurlike of uiterlike “beeld” nie, maar fokus op die geestelike – “wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie”. Die natuurlike “beeld” word dus dood vir ons nadat ons die geestelike daaruit kon put:

Rigt 14:8-9 En ‘n tyd daarna het hy [Simson] teruggegaan om haar te gaan haal; en toe hy uitdraai om na die dooie leeu te kyk, was daar ‘n swerm bye in die dooie liggaam van die leeu, en heuning. En hy het dit uitgehaal in sy hande en aldeur geloop en eet, en na sy vader en sy moeder gegaan en aan hulle gegee; en hulle het geëet, maar dat hy die heuning uit die dooie liggaam van die leeu uitgehaal het, vertel hy hulle nie.

Die heuning beeld uit die geestelike dinge wat verskuil is agter die aardse dooie beelde, soos die uiterlike dooie letters God se lewendmakende geestelike woorde wegsteek. Maar min kan dit nou sien en ervaar. Die “dieptes van God” is heel verskillend van die natuurlike beelde wat aan ons eerste voorgehou word. Dit wat die gees van God leer is nie aanvaarbaar vir die natuurlike mens met sy vleeslike beelde nie. Die natuurlike mens sien die geestelike dinge as dwaasheid:

1Kor 2:9-14  maar soos geskrywe is: Wat die oog nie gesien en die oor nie gehoor en in die hart van ‘n mens nie opgekom het nie, wat God berei het vir die wat Hom liefhet.  Maar God het dit aan ons deur sy Gees geopenbaar, want die Gees ondersoek alle dinge, ook die dieptes van God.  Want wie van die mense weet wat in ‘n mens is, behalwe die gees van die mens wat in hom is? So weet ook niemand wat in God is nie, behalwe die Gees van God.  Ons het ewenwel nie die gees van die wêreld ontvang nie, maar die Gees wat uit God is, sodat ons kan weet wat God ons uit genade geskenk het.  Daarvan spreek ons ook, nie met woorde wat die menslike wysheid leer nie, maar met dié wat die Heilige Gees leer, sodat ons geestelike dinge met geestelike vergelyk.  Maar die natuurlike mens neem die dinge van die Gees van God nie aan nie; want dit is vir hom dwaasheid, en hy kan dit nie verstaan nie, omdat dit geestelik beoordeel word.

God het ‘n natuurlike man as ‘n tipe of ‘n skaduwee na vore gebring in die Ou Testament wat vir ons die geestelike waarhede van geloof verstaanbaar maak. Maar hierdie man is glad nie die geestelike antitipe of vervulling nie. Hierdie is baie belangrik om te kan sien hoe Abraham die rol speel van ‘n geestelike tipe van wat geloof in God in ons lewens beteken:

Gen 12:1  En die HERE het aan Abram gesê: Gaan jy uit jou land en uit jou familie en uit jou vader se huis, na die land wat Ek jou sal wys. En Ek sal jou ‘n groot nasie maak en jou seën en jou naam so groot maak, dat jy ‘n seën sal wees. En Ek sal seën diegene wat jou seën, en hom vervloek wat jou vervloek; en in jou sal al die geslagte van die aarde geseën word.

Hier word die begin van die skeidingsproses tussen die vlees en die gees uitgebeeld toe Abram uit sy land en uit sy vleeslike familie en uit sy vader se huis moes trek na ‘n land wat totaal onbekend aan Abram was. Die geestelike is totaal onbekend aan ons natuurlike mens want ons ervaar eers die natuurlike en daarna die geestelike:

1Kor 15:46  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.

God werk alles in ons, ook die gehoorsaamheid om dit wat Hy vir ons sê, te kan doen. Maar soos Abram ook hier wys, doen ons altyd iets ekstra as mens. Ons wil altyd dinge byvoeg of weglaat uit God se Woord. Hierdie dinge wat ons byvoeg of weglaat, word later groot kopsere in ons lewens. Abram het Lot, sy broerskind, onder andere, met hom saamgeneem:

Gen 12:4-5  Toe het Abram weggetrek soos die HERE hom gesê het, en Lot het saam met hom getrek. En Abram was vyf en sewentig jaar oud by sy vertrek uit Haran. En Abram het Sarai, sy vrou, en Lot, sy broerskind, geneem en al hulle besittings wat hulle bymekaargemaak en die slawe wat hulle in Haran verwerf het, en hulle het uitgetrek om na die land Kanaän te gaan en in die land Kanaän gekom.

Die eerste plek wat Abram gaan bly het in Kanaän was Sigem waar God weer met hom gepraat  het, en waar Abram sy eerste altaar vir die Here gebou het:

Gen 12:6-7 En Abram het deur die land getrek na die plek Sigem, tot by die terpentynboom More. Die Kanaäniete was toe in die land.  Daarop verskyn die HERE aan Abram en sê: Aan jou nageslag sal Ek hierdie land gee. Toe bou hy daar ‘n altaar vir die HERE wat aan hom verskyn het.

Sigem beteken “skouer” of die deel waar ‘n juk geplaas word op diere. Die juk vir Abraham was dat die Kanaäniete nog in die land gebly het. Die Kanaäniete in die beloofde land beeld vir ons uit ons eie vleeslike dinge of vleeslike afgode wat ons mee te kampe het tydens ons geestelike groeiproses van geloof. Ons moet hierdie dinge van ons verwyder deur die geloof wat God aan ons skenk. Die boom by Sigem help ons ook baie om hierdie punt te bevestig. Jakob, Abram se kleinseun, het hier ook ‘n altaar vir die Here gebou en daaronder die vreemde gode van sy huisgesin begrawe:   

Gen 35:1-5  Daarna het God vir Jakob gesê: Maak jou klaar, trek op na Bet-el en woon daar; en bou daar ‘n altaar vir die God wat aan jou verskyn het toe jy op die vlug was vir jou broer Esau.  Toe sê Jakob aan sy huisgesin en aan almal wat by hom was: Verwyder die vreemde gode wat onder julle is, en reinig julle en trek ander klere aan;  en laat ons klaarmaak en optrek na Bet-el; en ek sal daar ‘n altaar bou vir die God wat my geantwoord het op die dag van my benoudheid en by my was op die weg wat ek gegaan het.  Toe gee hulle aan Jakob al die vreemde gode wat in hulle besit was, en die ringe aan hulle ore, en Jakob het dit begrawe onder die terpentynboom wat by Sigem is.  En toe hulle weggetrek het, kom daar ‘n skrik van God op die stede rondom hulle, sodat hulle die seuns van Jakob nie agternagejaag het nie.

Josua het ook van ‘n boom in Sigem gebruik gemaak om ontslae te raak van afgode:

Jos 24:22-27  Daarop sê Josua aan die volk: Julle is getuies teen julleself dat julle vir julleself die HERE gekies het om Hom te dien. En hulle sê: Ons is getuies.  Verwyder dan nou die vreemde gode wat onder julle is, en neig julle hart tot die HERE, die God van Israel.  Daarop sê die volk aan Josua: Ons sal die HERE onse God dien en na sy stem luister. En op dié dag het Josua met die volk ‘n verbond gesluit en vir hulle ‘n insetting en ‘n reg vasgestel in Sigem. En Josua het hierdie woorde in die wetboek van God geskrywe en ’n groot klip geneem en dié daar opgerig onder die eikeboom wat by die heilige plek van die HERE is. Toe sê Josua aan die hele volk: Kyk, hierdie klip sal ‘n getuie teen ons wees, want hy het al die woorde van die HERE gehoor wat Hy met ons gespreek het; en hy sal ‘n getuie teen julle wees, sodat julle jul God nie verloën nie. 

Abram, as tipe van die geestelike pelgrim in Christus, het bekend gestaan as ‘n man met ‘n tent en ‘n altaar. ‘n Tent beeld uit ons tydelikheid en ons geestelike honger na die ewige dinge van God wanneer die aardse (woning ook) geen bekoring meer inhou vir ons nie.  Die altaar is die plek van offers – die opoffering van die self en selfsugtigheid in ons. Dit alles hou verband met  ons groei in geloof en die soeke wat God in ons plaas om Sy ewige rus en permanente verblyf te verkry. Abraham was altyd op soek na die geestelike “stad van God”, maar dit was hom nie beskore nie. Abraham het nie God se geestelike stad bereik nie, maar hy sal wel dit bereik op ‘n later stadium:

Heb 11:8-10  Deur die geloof het Abraham, toe hy geroep is, gehoorsaam weggetrek na die plek wat hy as ‘n erfenis sou ontvang; en hy het weggetrek sonder om te weet waar hy sou kom.  Deur die geloof het hy as vreemdeling gaan woon in die land van belofte soos in ‘n vreemde land en in tente gewoon met Isak en Jakob, die mede-erfgename van dieselfde belofte.  Want hy het die stad verwag wat fondamente het, waarvan God die boumeester en oprigter is.

Heb 11:13 In die geloof het hulle almal gesterwe sonder om die beloftes te verkry, maar hulle het dit uit die verte gesien en geglo en begroet, en het bely dat hulle vreemdelinge en bywoners op aarde was.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.

Laat 'n boodskap

Please log in using one of these methods to post your comment:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s