Die gee van ‘tiendes’ (Deel 4: Opsomming)

Lees gerus ook die volgende dele in die reeks:

Deel 1: Inleiding – die tiende se vleeslike (letterlike) toepassing

Deel 2: Die geestelike toepassing van die tiende

Deel 3: Die doel en toepassing van breuke in die Skrifte

Opsomming:

Die onderwerp van die gee van tiendes in die Skrifte, kom uit die dae van Abraham en het oorgegaan onder die Wet van Moses as ‘n ou verbond-instelling. Sommige mense glo dat die gee van tiendes in die vorm van geld vir hulle van toepassing is, volgens die maat van geloof wat God aan hulle gegee het. Hierdie manier van die gee van tiendes is egter onskriftuurlik. Mense wat die ou verbond tradisies en instellings op ‘n verdraaide manier in die nuwe geestelike verbond van Christus wil indruk, wil die eerste tabernakel / tempel lewendig hou, terwyl dit dood en begrawe is in Christus.

Heb 9:6-10 En nadat hierdie dinge so ingerig was, het die priesters wel gedurig in die eerste tabernakel ingegaan om die dienste te vervul, 7 maar in die tweede die hoëpriester alleen, een maal in die jaar, nie sonder bloed nie, wat hy offer vir homself en vir die sondes van die volk uit onwetendheid begaan— 8 waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie. 9 Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie, 10 omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling.

Vir diegene wat onder die nuwe geestelike verbond van Christus leef, is daar ‘n totale nuwe betekenis vir die gee van tiendes onder “die tyd van herstelling” (Heb 9:10)! Die standaarde van die nuwe verbond in Christus is soveel hoër as die standaarde van die ou verbond:

Mat 5:17-20  Moenie dink dat Ek gekom het om die wet of die profete te ontbind nie. Ek het nie gekom om te ontbind nie, maar om te vervul.  18  Want voorwaar Ek sê vir julle, voordat die hemel en die aarde verbygaan, sal nie een jota of een titteltjie van die wet ooit verbygaan totdat alles gebeur het nie.  19  Elkeen dus wat een van die minste van hierdie gebooie breek en die mense só leer, sal die minste genoem word in die koninkryk van die hemele; maar elkeen wat dit doen en leer, hy sal groot genoem word in die koninkryk van die hemele.  20  Want Ek sê vir julle dat, as julle geregtigheid nie oorvloediger is as dié van die skrifgeleerdes en Fariseërs nie, julle nooit in die koninkryk van die hemele sal ingaan nie.

Kom ons herhaal: Jesus verwag ‘n “oorvloediger” geregtigheid van Sy volgelinge as die tipe geregtigheid wat onder die ou verbond gegeld het! Dit gaan dus nie oor ‘n gedeelte (‘n breuk) van ons lewe nie, maar baie meer. Ons hele lewe is die offer wat aanvaarbaar is onder die nuwe verbond in Christus. Die ou verbond was nooit gegee om enigiemand regverdig te maak voor God nie. Die ou verbond berus op vleeslike verordeninge en ons goeie werke in die vlees is ‘n groot probleem as ons daardeur regverdigheid voor God wil hë. Daar is geen geestelike perfeksie in ‘n verbond wat berus op vleeslike verordeninge nie:

Jes 64:6  En ons het almal geword soos ‘n onreine, en al ons geregtighede soos ‘n besoedelde kleed; en ons het almal verdor soos blare, en ons ongeregtighede het ons weggevoer soos die wind.

Heb 9:8-10  waarmee die Heilige Gees dít duidelik maak, dat die weg na die heiligdom nog nie geopen is so lank as die eerste tabernakel nog standhou nie.  9  Dit was ‘n beeld met die oog op die teenwoordige tyd waarin daar gawes en offers gebring word, wat hom wat die diens verrig, na die gewete nie volkome kan maak nie,  10  omdat dit net bestaan het in spys en drank en verskillende wassinge en vleeslike verordeninge wat opgelê is tot op die tyd van herstelling.

Die beste pogings van mense was nog nooit suksesvol om God se guns weg te dra nie:

Rom 9:31-33  terwyl Israel, wat die wet van die geregtigheid nagejaag het, die wet van die geregtigheid nie bereik het nie.  32  Waarom? Omdat dit nie uit die geloof was nie, maar net asof dit uit die werke van die wet was; want hulle het hul gestamp teen die steen van aanstoot.  33  Soos geskrywe is: Kyk, Ek lê in Sion ‘n steen van aanstoot en ‘n rots van struikeling; en elkeen wat in Hom glo, sal nie beskaam word nie.

Ons kan dus net deur die beter verbond in Christus God se perfekte standaarde bevredig. Dit sluit in die konsep van tiendes, soos dit onder die nuwe verbond verstaan word. Ons moet die hele tiende gee en dit beteken alles wat ons het – geld of diere of landbougewasse is nie die fokus nie:

Rom 12:1  Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens.

Mat 22:34-40  En toe die Fariseërs hoor dat Hy die Sadduseërs die mond gestop het, het hulle almal saam vergader.  35  En een van hulle, ‘n wetgeleerde, het ‘n vraag gestel om Hom te versoek en gesê:  36  Meester, wat is die groot gebod in die wet?  37  En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. 38 Dit is die eerste en groot gebod.  39  En die tweede wat hiermee gelykstaan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself.  40  Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

Mar 12:28-34  En toe een van die skrifgeleerdes wat bygekom het, hulle hoor redetwis, en wis dat Hy hulle goed geantwoord het, vra hy vir Hom: Wat is die eerste gebod van almal?  29  En Jesus antwoord hom: Die eerste van al die gebooie is: Hoor, Israel, die Here, onse God, is ‘n enige Here;  30  en jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag. Dit is die eerste gebod.  31  En die tweede, hieraan gelyk, is dit: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Daar is geen ander gebod groter as dié nie.  32  En die skrifgeleerde sê vir Hom: Goed, Meester, U het met waarheid gesê dat God een is en daar geen ander is as Hy nie;  33  en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag, en om die naaste lief te hê soos jouself, is meer as al die brandoffers en die slagoffers.  34  Toe Jesus sien dat hy verstandig geantwoord het, sê Hy vir hom: Jy is nie ver van die koninkryk van God nie. En niemand het dit meer gewaag om Hom vrae te stel nie.

Die offers onder die nuwe verbond “is meer as al die brandoffers en die slagoffers” van die ou verbond omdat die ou verbond net op die uiterlike (dit wat gesien kan word) gefokus het. Jesus maan ons dat die binnekant van die beker (ons innerlike – dit wat in ons hart / denke is) moet die fokus kry en dan sal die uiterlike ook reg geleef word:

Mat 23:23-27  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle gee tiendes van kruisement en anys en koljander, en die swaarste van die wet laat julle ná: die reg en die barmhartigheid en die trou. Hierdie dinge behoort julle te doen sonder om die ander na te laat.  24  Blinde leiers, julle wat die muggie uitsif, maar die kameel insluk!  25  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle maak die buitekant van die beker en die skottel skoon, maar binnekant is dit vol roof en onmatigheid.  26  Blinde Fariseër, maak eers die binnekant van die beker en die skottel skoon, sodat ook die buitekant daarvan skoon kan word.  27  Wee julle, skrifgeleerdes en Fariseërs, geveinsdes, want julle is net soos gewitte grafte wat van buite wel fraai lyk, maar van binne vol doodsbene en allerhande onreinheid is.

As ons fokus na binne skuif, na ons denke en wat in ons hart aangaan, en God se lig wys ons wat alles daar skuil, dan sal ons tot God roep vir ‘n nuwe hart.

Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Vernuwing van ons denke is om ons nuwe hart te ontvang van God. Dit is egter ‘n proses wat ons elke dag sal moet na streef om af te sterf vir die vleeslikheid in ons harte soos ons saam met Christus (deur Sy krag) sterf.

1Jn 2:15-17  Moenie die wêreld liefhê of die dinge wat in die wêreld is nie. As iemand die wêreld liefhet, dan is die liefde van die Vader nie in hom nie.  16  Want alles wat in die wêreld is—die begeerlikheid van die vlees en die begeerlikheid van die oë en die grootsheid van die lewe—is nie uit die Vader nie, maar is uit die wêreld.  17  En die wêreld gaan verby en sy begeerlikheid, maar hy wat die wil van God doen, bly vir ewig.

1Kor 15:31  Ek sterf dag vir dag, broeders, so waar as ek op julle roem in Christus Jesus, onse Here.

Gal 2:20  Ek is met Christus gekruisig, en ék leef nie meer nie, maar Christus leef in my. En wat ek nou in die vlees lewe, leef ek deur die geloof in die Seun van God wat my liefgehad het en Homself vir my oorgegee het.

Soos Christus se geestelike gestalte in ons leef en groei deur Sy Woord in ons, so groei ons in die denke (“die sin”) van Christus:

1Kor 2:15-16  Maar die geestelike mens beoordeel wel alle dinge; self egter word hy deur niemand beoordeel nie.  16  Want wie het die sin van die Here geken, dat hy Hom sou kan onderrig? Maar ons het die sin van Christus.

Deur die “sin van Christus” in ons kan ons ook verder verstaan hoekom die storie van Abraham wat tiendes gee aan Melgisédek aan ons vertel word. Daar is ‘n orde wat beklemtoon word. Die aardse priesterskap in die stam van Levi het tiendes betaal aan ‘n hoër orde van priesterskap wat voorgestel was deur Melgisédek (Levi was in Abraham se “lendene” toe hy aan Melgisédek ‘n tiende offer).

Gen 14:17-20 Ná sy [Abraham] terugkoms van die oorwinning op Kedor-Laómer en die konings wat saam met hom was, het die koning van Sodom uitgetrek hom tegemoet na die laagte Sawe, dit is die Koningslaagte. 18 En Melgisédek, die koning van Salem, wat ‘n priester van God, die Allerhoogste, was, het brood en wyn gebring 19 en hom geseën en gesê: Geseënd is Abram deur God, die Allerhoogste, die Skepper van hemel en aarde. 20 En geseënd is God, die Allerhoogste, wat u vyande in u hand gegee het. Toe gee hy [Abraham] hom [Melgisédek] die tiende van alles.

Christus en Sy geestelike verbond is meer belangrik as die verbond wat berus op vleeslike verordeninge. Christus en Sy verbond verskaf ook dan die hoër orde van priesterskap wat geestelike offers bring in ‘n geestelike tempel. Dit is wat welgevallig is aan die Vader deur Christus:

1Pe 2:4-5  Kom na Hom toe, die lewende steen wat deur die mense wel verwerp is, maar by God uitverkore en kosbaar is;  5  en laat julle ook soos lewende stene opbou, tot ‘n geestelike huis, ‘n heilige priesterdom, om geestelike offers te bring wat aan God welgevallig is deur Jesus Christus.

Die geestelike offers binne die geestelike tempel van God oortref ons eie beste werke in vlees (die aardse tabernakel / tempel). Ons buig dus ons vlees voor die gees van Christus en ontvang Sy seën, want die “mindere” word deur die “meerdere” geseën:

Heb 7:1-10  Want hierdie Melgisédek was koning van Salem, priester van God, die Allerhoogste, wat vir Abraham tegemoetgegaan het by sy terugkeer toe hy die konings verslaan het, en hom geseën het;  2  aan wie Abraham ook ‘n tiende deel van alles gegee het—hy was in die eerste plek, volgens uitleg, koning van die geregtigheid en dan ook koning van Salem, dit is koning van vrede;  3  sonder vader, sonder moeder, sonder geslagsregister, sonder begin van dae of lewenseinde, maar gelykgestel aan die Seun van God, bly hy priester altyddeur.  4  Let nou op hoe groot hierdie man was, aan wie selfs Abraham, die aartsvader, ‘n tiende van die buit gegee het.  5  Nou het hulle wat uit die seuns van Levi die priesterskap ontvang, wel ‘n gebod om, volgens die wet, van die volk tiendes te neem, dit is van hulle broers, ofskoon hulle uit die lendene van Abraham voortgekom het;  6  maar hy wat nie uit húlle sy geslagsregister aflei nie, het van Abraham tiendes geneem en die besitter van die beloftes geseën.  7  Nou word sonder enige teëspraak die mindere deur die meerdere geseën.  8  En hier neem wel sterflike mense tiendes, maar dáár een van wie getuig word dat hy lewe.  9  En, om so te sê, het ook Levi wat tiendes ontvang, deur Abraham tiendes gegee;  10  want hy was nog in die lendene van sy vader toe Melgisédek hom tegemoetgegaan het.

Christus se geestelike wet is die “meerdere” en die ou verbond met sy aardse ordinansies (aardse tabernakel / tempel met sy offers en priesterorde) is die “mindere”. Christus is die enigste ware Hoë Priester, en die “min” wie Hy uitverkies is die priester wat in sy ware tempel dien.

Heb 3:1  Daarom, heilige broeders, deelgenote van die hemelse roeping, let op die Apostel en Hoëpriester van ons belydenis, Christus Jesus.

1Pe 2:9  Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,

Hierdie pristers in Christus plaas hul fokus op die geestelike “tiende” en “die dinge waar dit op aankom” in Christus. Hierdie uitverkorenes in Christus is die heilige koninklike priesterdom van die nuwe verbond wat beter offers bring – hul hele lewe (die “hele tiende” – Mal 3:10)! Die oorvloed van Sy kennis en gees!

Fil 1:9-11  En dit bid ek dat julle liefde nog meer en meer oorvloedig mag word in kennis en alle ervaring,  10  om die dinge waar dit op aankom, te onderskei, sodat julle rein en vir niemand ‘n aanstoot mag wees nie, tot op die dag van Christus,  11  vervul met die vrug van geregtigheid wat daar is deur Jesus Christus tot heerlikheid en lof van God.

Mat 22:14  Want baie is geroep, maar min uitverkies.

1Pe 2:9 Maar julle is ‘n uitverkore geslag, ‘n koninklike priesterdom, ‘n heilige volk, ‘n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig,

God se oorvloed in ons lewe maak ons los van die vlees en sy spaarsaamlikheid (breuke / gedeeltes). God het inderdaad ‘n blymoedige gewer lief, en so ‘n gewer is nie een wat moet uitwerk met ‘n sakrekenaar of hy/sy 10%, 20% of 30% van sy lewe moet gee nie:

2Kor 9:6-7 Maar dink daaraan: Wie spaarsaamlik saai, sal ook spaarsaamlik maai; en wie volop saai, sal ook volop maai. 7 Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ‘n blymoedige gewer lief.

‘n Blymoedige gewer weet dat alles alreeds aan God behoort, ook hul hele lewe. Dit wat ons “gee” is tog eerstens aan ons gegee deur God, soos Dawid ook kon sien…

1Kron 29:14 Want wie is ek tog, en wat is my volk, dat ons in staat sou wees om sulke vrywillige gawes te skenk? Want dit kom alles van U, en uit u hand het ons dit aan U gegee.

Ons “vrywillige gawes” is ook nie so “vry” willig soos sommige dink nie. God se wil en Sy raad “werk” alles in hierdie skepping – ook ons gawes:

Efes 1:11 in Hom in wie ons ook ‘n erfdeel ontvang het nadat ons vantevore daartoe verordineer is ooreenkomstig die voorneme van Hom wat alles werk volgens die raad van sy wil.

Die tiende het dus eintlik te doen met die geheel wat God aan ons gee tydens ons aarde lewe, omdat alles God s’n is en ons ons hele lewe aan Hom te danke het (in geestelike terme, volgens die Skrifte, beeld die getal 10 ons vleeslike aardse lewe uit). As ons die hele vlees as offer aan God gee, dan maak God Sy hemele in ons oop sodat die strome van lewendige water (Sy gees) ook uiteindelike ons hele lewe werk oorneem!

Mal 3:10 Bring die hele tiende na die skathuis, sodat daar spys in my huis kan wees; en beproef My tog hierin, sê die HERE van die leërskare, of Ek vir julle nie die vensters van die hemel sal oopmaak en op julle ‘n oorvloedige seën sal uitstort nie.

Mat 13:10-13 En die dissipels het gekom en vir Hom gesê: Waarom spreek U tot hulle [die massas] deur gelykenisse [byvoorbeeld tiendes? 11 Toe antwoord Hy en sê vir hulle: Omdat dit aan julle gegee is om die verborgenhede van die koninkryk van die hemele te ken, maar aan hulle is dit nie gegee nie. 12 Want hy wat het, aan hom sal gegee word, en hy sal oorvloed hê; maar hy wat nie het nie, van hom sal weggeneem word ook wat hy het. 13 Daarom spreek Ek tot hulle deur gelykenisse, omdat hulle, terwyl hulle sien, nie sien nie, en terwyl hulle hoor, nie hoor of verstaan nie.

Die fisiese begrip van tiendes (of ander breuke wat in die Skrifte genoem word) laat mense fokus op ‘n deel van die geheel (soos ons goeie Wiskunde onderwysers ons geleer het). Maar God se geestelike Wiskunde werk heeltemal anders. ALLES is God s’n – en ons bring die “hele tiende” aan God, d.w.s. ons hele lewe. Die ware kind van God gee tien tiendes:

Rom 12:1-2 Ek vermaan julle dan, broeders, by die ontferminge van God, dat julle jul liggame stel as ‘n lewende, heilige en aan God welgevallige offer dit is julle redelike godsdiens. 2 En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

1Kor 6:19-20 Of weet julle nie dat julle liggaam ‘n tempel is van die Heilige Gees wat in julle is, wat julle van God het, en dat julle nie aan julself behoort nie? 20 Want julle is duur gekoop. Verheerlik God dan in julle liggaam en in julle gees wat aan God behoort.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.