Die ark was nie ‘n mitologiese skip soos sommige dit wil hê nie, maar word in fyn besonderhede en met presiesheid deur God beskryf in die Bybel. Daar was ‘n letterlike ark wat agt mense gered het van die waterdood wat oor die hele wêreldbevolking gekom het. Maar die geestelike boodskap of betekenis van die ark is van groter betekenis vir die wat dit kan ontvang:
Heb 11:7 Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.
1Pe 3:20 [“die geeste in gevangenskap….ingesluit onder die sonde” in 1Pet 3:19 en Gal 3:22] wat eertyds ongehoorsaam was toe die lankmoedigheid van God een maal gewag het in die dae van Noag, onderwyl die ark gereed gemaak is, waarin weinig, dit is agt, siele deur water heen gered is;
Dit herinner baie sterk aan hierdie belangrike boodskap:
Mat 22:14 Want baie is geroep, maar min uitverkies.
As ons na die opdrag kyk wat God aan Noag gegee het aangaande die bou van die ark is daar baie interessante gegewens wat baie betekenisvol is:
Gen 6:14 Maak vir jou ‘n ark van goferhout [Hebreeus: gôpher]. Met afdelings moet jy die ark maak en dit binne en buite met pik [Hebreeus: kôpher] bestryk [Hebreeus: “kâphar”].
Goferhout word net een keer in die Skrifte genoem – reg hier by die bou van die ark. Maar dit het dieselfde woord-oorsprong as die woord vir “pik” in die oorspronklike Hebreeus, naamlik “kâphar” wat die volgende betekenisse insluit:
om te bedek; versoening, genadig wees, vergifnis, reinig.
Die ark was die sinnebeeld van die vergifnis en bedekking van sonde en ongeregtigheid, en ook die versoening van Jesus Christus:
Rom 4:7 Welgeluksalig is hulle wie se ongeregtighede vergewe en wie se sondes bedek is.
1Jn 2:1-2 My kinders, ek skryf hierdie dinge aan julle, dat julle nie moet sondig nie; en as iemand gesondig het, ons het ‘n Voorspraak by die Vader, Jesus Christus, die Regverdige. En Hy is ‘n versoening vir ons sondes, en nie alleen vir ons s’n nie, maar ook vir dié van die hele wêreld.
Dit beteken almal gaan deur ‘n doodsproses in ‘n “liggaam van hierdie dood”, maar dat almal weer lewend gemaak sal word deur Jesus om geestelike lewe te ontvang:
Rom 7:24-25 Ek, ellendige mens! Wie sal my verlos van die liggaam van hierdie dood? Ek dank God deur Jesus Christus, onse Here!
1Kor 15:22 Want soos hulle almal in Adam [se doodsliggaam] sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word;
Die ark verwys dus enersyds na ‘n oordeel oor sonde (die “liggaam van hierdie dood”), maar verwys meer na die redding in Christus. Een deel van ons moet plek maak vir die nuwe deel wat kom!
Efes 4:22-24 dat julle, wat die vorige lewenswandel betref die oue mens moet aflê wat deur die begeerlikhede van die verleiding te gronde gaan, en dat julle vernuwe moet word in die gees van julle gemoed en julle met die nuwe mens moet beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid.
Binne-in die ark moes afdelings gemaak word. Hierdie woord “afdelings” kom van die Hebreeuse woord “qên” wat ‘n nes van ‘n voël aandui. ‘n Nes is ‘n teken van rus en vrede waar gebroei en nuwe lewe na vore gebring word:
Psa 84:4-6 Selfs vind die mossie ‘n huis en die swaweltjie ‘n nes [qên] vir haar, waar sy haar kleintjies neerlê, naamlik u altare, HERE van die leërskare, my Koning en my God! Welgeluksalig is hulle wat woon in u huis; hulle prys U gedurig. Sela. Welgeluksalig is die mens wie se sterkte in U is, in wie se hart die gebaande weë is.
Die “nes” het dus te make met die “altare” van God. Waar ‘n lewe neergelê word om nuwe lewe na vore te bring. Jesus het gesê dat Hy plek vir almal gaan voorberei want by God is ruimte vir almal:
Joh 14:1-3 Laat julle hart nie ontsteld word nie; glo in God, glo ook in My. In die huis van my Vader is daar baie wonings; as dit nie so was nie, sou Ek dit vir julle gesê het. Ek gaan om vir julle plek te berei. En as Ek gegaan en vir julle plek berei het, kom Ek weer en sal julle na My toe neem, sodat julle ook kan wees waar Ek is.
Die verdere beskrywings van die ark bevestig al hierdie waarhede:
Gen 6:15 Só moet jy dit maak: drie honderd el die lengte van die ark, vyftig el sy breedte en dertig el sy hoogte. ‘n Opening moet jy aan die ark maak; en op die maat van ‘n el moet jy dit aan die bokant afwerk en die deur van die ark aan die sykant insit. Jy moet dit met ‘n onderste, tweede en derde verdieping maak.
‘n “El” was gewoonlik verwysend na die “maat” van ‘n mens se voorarm (van elmboog tot die punt van die middelvinger en soms nog ‘n ekstra handbreedte) in Bybelse dae (2Kron 3:3; Eseg 43:13). Getalle in die Skrifte het ook baie belangrike geestelike verwysings wat binne die Skrifte self verduidelik word. Geestelik is daar egter ook ‘n maat waarmee ons meet en waarmee ons gemeet word:
Mat 7:2 Want met die oordeel waarmee julle oordeel, sal julle geoordeel word; en met die maat waarmee julle meet, sal weer vir julle gemeet word.
Rom 12:3 Want deur die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen wat onder julle is, dat hy nie van homself meer moet dink as wat ‘n mens behoort te dink nie; maar dat hy daaraan moet dink om besadig te wees na die maat van geloof soos God dit aan elkeen toebedeel het.
‘n “Opening…aan die bokant” verwys sterk na die “geopende deur in die hemel” in Openbaring waarmee ons nuwe insigte in God se werke (in ons) kry:
Open 4:1 Ná hierdie dinge het ek gesien kyk, ‘n geopende deur in die hemel, en die eerste stem wat ek soos ‘n basuin met my hoor spreek het, het gesê: Kom op hierheen, en Ek sal jou toon wat ná hierdie dinge moet gebeur.
Deur hierdie “deur” of venster word God se Woord aan ons geopenbaar as ons deur die EEN “deur aan die sykant” kom:
Joh 14:6 Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe DEUR My nie.
Joh 10:1-3 Voorwaar, voorwaar Ek sê vir julle, wie nie by die DEUR in die skaapstal ingaan nie, maar van ‘n ander kant af inklim, hy is ‘n dief en ‘n rower. Maar hy wat by DIE DEUR ingaan, is ‘n herder van die skape. Vir hom maak die deurwagter oop, en die skape luister na sy stem; en hy roep sy eie skape by hulle naam en lei hulle uit.
Deur die een deur sal almal gered word, “maar elkeen in sy eie orde”. Hier is die “orde” in drie vlakke of opwekkings tot geestelike lewe:
1Kor 15:22-24 Want soos hulle almal in Adam sterwe, so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word; maar elkeen in sy eie orde:
- as eersteling Christus,
- daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.
- Daarna kom die einde [dit is “die res” of “telos” in die Grieks], wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.
Dit was slegs deur die geloof wat God geskenk het dat Noag met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak het wat tot die redding van Sy gesin sou lei:
Heb 11:7 Deur die geloof het Noag, toe hy ‘n goddelike waarskuwing ontvang het aangaande wat nog nie gesien was nie, met eerbiedige vrees die ark gereed gemaak tot redding van sy huisgesin, waardeur hy die wêreld veroordeel het en ‘n erfgenaam geword het van die geregtigheid wat volgens die geloof is.
Jesus, ons Redder, het ook ‘n gesin wat Hy gaan red. Hy is deur die Vader aangestel as “ewige Vader” of Vader van die eons van elke mens:
Jes 9:5 Want ‘n Kind is vir ons gebore, ‘n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige [Griekse Septuagint vertaling: “aion” (naamwoord) of “aionios” (byvoeglike naamwoord) wat beteken eon of beperkte tydperk] Vader, Vredevors—
1Kor 15:28 En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.
Hierdie is weereens ‘n verwysing na Jesus wat in alles Sy Vader eerbiedig dien, selfs die kruisdood, waardeer die aardse wêreld vir Hom en ons IN Hom gedood word. Die Vader het alles aan Jesus onderwerp vir ‘n beperkte tyd en Jesus sal alles weer aan die Vader oorhandig as ALMAL wie in die eerste Adam gebore was, perfek en geestelik volmaak gemaak is in Hom:
Fil 2:3-8 Moenie iets doen uit selfsug of uit ydele eer nie, maar in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself. Julle moet nie elkeen na sy eie belange omsien nie, maar elkeen ook na die ander s’n. Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ‘n dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ‘n mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis.