‘Alles behoort aan julle’ – die teenswoordige dinge en die toekomstige dinge

[Hierdie artikel is oorspronklik in Afrikaans geskryf. Ek neem nie verantwoordelikheid vir foutiewelike / verkeerde inhoud wat van internet vertalings verkry word nie – Larry Groenewald]

Inleiding

Alles wat neergeskryf is in die Skrifte leer ons van ons eie lewe, as God ons geestelike oë gee om dit te kan sien.

Rom 15:4  Want alles wat tevore geskrywe is, is tot ons lering tevore geskrywe, sodat ons deur lydsaamheid en bemoediging van die Skrifte hoop kan hê.

Alles in die Skrifte behoort dus aan ons, en dit is ook wat Paulus aan die gemeente in Korinthe genoem het – “alles behoort aan julle”…

1Kor 3:21-23  Laat niemand dan op mense roem nie, want alles behoort aan julle;  22  of dit Paulus is of Apollos of Céfas of die wêreld of lewe of dood of teenswoordige of toekomstige dinge—alles behoort aan julle;  23  maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.

Ons hanteer elkeen van hierdie aspekte wat Paulus hier noem in hierdie studiereeks, soos God die openbaring aan ons elkeen gee deur Sy Woord. Hierdie dinge wat Paulus noem is tipes van die mense, omstandighede en tye wat ons elkeen persoonlik ervaar volgens ons eie konteks. Dit help ons dus baie om te kyk na wat God aan ons persoonlik wil sê deur die woorde van Paulus. Ons het reeds gesels oor hoe die lewe en ervaringe van Paulus, Apollos en Céfas aan die gemeente daar in Korinthe behoort het, en ook aan ons behoort (die volgende skakels neem jou direk na die studies):

Die wêreld behoort ook aan ons. Drie dinge staan uit in “die wêreld” en ons beleef al hierdie dinge in ons eie lewe (volgens 1Joh 2:16):

Die dood en die lewe behoort ook aan ons, volgens Paulus.

Hoe behoort die teenswoordige dinge en die toekomstige dinge aan elkeen van ons?

Die teenswoordige dinge en die toekomstige dinge

God het twee eons (tydperke) geskep wat elke mens sal deurgaan – ‘n tydelike fisiese eon, en dan volg die geestelike eon. Paulus noem dit ook die eon van die eerste Adam, die “aardse” eon, wat eerste na ons kom, en dan volg die eon van die laaste Adam (Jesus Christus) waartydens mense die “hemelse” dinge sal ervaar:

1Kor 15:46-49  Die geestelike ewenwel is nie eerste nie, maar die natuurlike; daarna die geestelike.  47  Die eerste mens was uit die aarde aards, die tweede mens is die Here uit die hemel.  48  Soos die aardse mens was, so is ook die aardse mense; en soos die hemelse mens is, so is ook die hemelse mense.  49  En soos ons die beeld van die aardse gedra het, so sal ons ook die beeld van die hemelse dra.

Almal sal albei hierdie eons ervaar. Albei die twee eons word deur God beheer, van die begin tot die einde. Jesus Christus (ook genoem “die Woord” van God) was aangestel as die God oor albei hierdie eons. Die “natuurlike” is eerste en elke lewe (ook die van elke mens) word ook volgens die Skrifte ‘n unieke eon binne hierdie oorkoeplende groot eon gegee.

Pred 3:1  Alles het sy bepaalde uur, en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd:

Elke lewe het dus ‘n begin (geboortedag) en ‘n einde (sterfdag) binne die eerste groot oorkoepelende eon. Die Griekse Skrifte noem dit die “eons van die eon” maar die vertalings in Afrikaans vertaal dit as “alle ewigheid” of “in ewigheid”. Elke lewe van elke mens was haarfyn uitgewerk voor die geboortedag, en die sterfdag was ook vooruit vasgestel:

Pred 3:2  ‘n tyd om gebore te word en ‘n tyd om te sterwe, ‘n tyd om te plant en ‘n tyd om uit te roei wat geplant is,

Alles gebeur presies soos God dit vooruit beplan het:

Psa 139:16  U oë het my ongevormde klomp gesien; en in u boek is hulle almal opgeskrywe: dae dat alles bepaal was, toe nog geeneen van hulle daar was nie.

Die Woord, Jesus Christus, is in totale beheer van hierdie twee oorkoeplende eons – elke indiwiduele lewe binne die natuurlike eon, en ook elke lewe binne die geestelike eon:

Joh 1:1-3  In die begin was die Woord, en die Woord was by God, en die Woord was God.  2  Hy was in die begin by God.  3  Alle dinge het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het nie een ding ontstaan wat ontstaan het nie.

Heb 11:3  Deur die geloof verstaan ons dat die wêreld [Grieks: “aiōn” = eon / tydperk] deur die woord van God toeberei is, sodat die dinge wat gesien word, nie ontstaan het uit sienlike dinge nie.

Open 1:8  Ek [Jesus] is die Alfa en die Oméga, die begin en die einde, sê die Here, wat is en wat was en wat kom, die Almagtige.

1Ti 1:17  Aan die Koning van die eeue [Grieks: “aiōns” = eons / tydperke], die onverderflike, onsienlike, alleenwyse God, kom toe die eer en die heerlikheid tot in alle ewigheid [Grieks: “aiōns” = elke indiwiduele eon]. Amen.

Ons moet onthou dat die meeste vertalings van die Bybel, hetsy dit in Afrikaans, Engels of enige taal is, het groot probleme met die vertaling van die Griekse woord “aiōn” of sy Hebreeuse eweknie “ôlâm”. Albei die woorde beteken ‘n tydperk. Orals waar mens die woorde “ewig”, “ewigheid” of “in ewig” lees in vertalings van die Bybel, kan mens amper 100% seker wees dat die woorde “aiōn” of “ôlâm” betrokke is. Dit weerhou die waarheid van die teks vir baie, maar hulle wat soekend is na die waarheid, sal tot die waarheid gelei word deur God:

Spr 25:2  Dit is die eer van God om ‘n saak te verberg, maar die eer van konings om ‘n saak na te speur.

Mat 7:7-11  Bid, en vir julle sal gegee word; soek, en julle sal vind; klop, en vir julle sal oopgemaak word.  8  Want elkeen wat bid, ontvang; en hy wat soek, vind; en vir hom wat klop, sal oopgemaak word.  9  Of watter mens is daar onder julle wat, as sy seun hom brood vra, aan hom ‘n klip sal gee;  10  en as hy ‘n vis vra, aan hom ‘n slang sal gee?  11  As julle wat sleg is, dan weet om goeie gawes aan julle kinders te gee, hoeveel te meer sal julle Vader wat in die hemele is, goeie dinge gee aan die wat Hom bid!

Lees gerus meer oor hoe God die waarheid verberg deur hierdie twee woorde te gebruik, die Griekse woord “aiōn” en sy Hebreeuse eweknie “ôlâm” by die volgende skakels:

Die Hebreeuse woord “ôlâm” en sy Griekse eweknie “aiōn”

Die twee Griekse woorde: “Aion” en “Aionios”

Die eerste beginsels van die woorde en leer van Christus (Deel 6)

Die eerste oorkoepelende eon wat ons as mens ervaar, word as die “teenwoordige bose” eon uitgewys in die Skrifte:

Gal 1:4  wat Homself gegee het vir ons sondes, sodat Hy ons kan uitred uit die teenwoordige bose wêreld [Grieks: “aiōn” = eon / tydperk], volgens die wil van onse God en Vader.

Die bose eon is wat die eerste Adam, die mens in vlees, in leef – in sonde en ongeregtigheid:

Psa 51:7  Kyk, in ongeregtigheid is ek gebore, en in sonde het my moeder my ontvang.

Hierdie bose eon het ‘n groot invloed op ons denke. Elke natuurlike mens besit hierdie boosheid, en dit is juis in ons denke waar die bose eon sy uitdrukking vind, wat dan ook in ons optredes uitgewys word:

Gen 6:5  Toe die HERE sien dat die boosheid van die mens op die aarde groot was en al die versinsels wat hy in sy hart bedink, altyddeur net sleg was.

Dit is nie wat ons inneem wat ons onrein maak nie, maar dit wat in ons hart is, in ons denke, wat ons onrein maak. Dit is dan ook wat ons uitleef elke dag van ons lewe:

Mat 15:11  Nie wat in die mond ingaan, maak die mens onrein nie; maar wat uit die mond uitgaan, dit maak die mens onrein.

Die eerste of teenswoordige dinge in ons lewe word as “die dood” beskryf deur die Skrifte. Dit is hierdie vleeslike eon wat die geestelike dood vir ons inhou. Ons almal eet die vrugte van die dood, lank voordat ons dit besef…

Gen 2:16-17  En die HERE God het aan die mens bevel gegee en gesê: Van al die bome van die tuin mag jy vry eet,  17  maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe.

Hierdie boom van kennis van goed en kwaad is ‘n tipe van ons eie aardse lewe. Ons almal eet die vrugte van hierdie boom. Die boom van die kennis van goed en kwaad is egter apart van die boom van lewe…

Gen 2:9  En die HERE God het allerhande bome uit die grond laat uitspruit, begeerlik om te sien en goed om van te eet; ook die boom van die lewe in die middel van die tuin, en die boom van die kennis van goed en kwaad.

Natuurlike mense eet nie die Boom van Lewe (Jesus Christus) nie – daar is nie eens ‘n begeerte om dit te eet nie want ons is geestelik dood van nature!

Jes 53:2  Hy tog het soos ‘n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ‘n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.

God maak ‘n skeiding tussen die twee bome, en ons natuurlike mens het geen toegang tot die Boom van Lewe nie. Om toegang te kry tot die Boom van Lewe moet ons deur ‘n doodsproses gaan – die oordeel van God (“die swaard wat vlam en flikker”), waartydens ons leer hoe om af te sterf van ons aardse drange na die aardse boom…

Gen 3:22-24  Toe sê die HERE God: Nou het die mens geword soos een van Ons deur goed en kwaad te ken. As hy nou maar nie sy hand uitsteek en ook van die boom van die lewe neem en eet en lewe in ewigheid nie!  23  Toe stuur die HERE God hom weg uit die tuin van Eden om die grond te bewerk waaruit hy geneem is.  24  So het Hy dan die mens weggedrywe en gérubs aan die oostekant van die tuin van Eden laat woon, met die swaard wat vlam en flikker, om die toegang tot die boom van die lewe te bewaak.

Die aardse mens moet eers sy geestelike doodstoestand besef. Dan gee God aan hulle wie hul eie aardse dooie toestand kan sien die begeerte vir Sy oordeel. Dit is hierdie belangrike oordeel van God wat dan toegang bied tot die lewe in Christus – die eon van lewe:

Heb 9:27  En net soos die mense bestem is om een maal te sterwe en daarna die oordeel.

Jes 26:8-9  Ook in die weg van u oordele het ons U verwag, o HERE! Tot u Naam en tot u gedenknaam gaan die begeerte van ons siel uit.  9  Met my siel begeer ek u in die nag; ook met my gees in my binneste soek ek U; want as u oordele op die aarde is, leer die inwoners van die wêreld geregtigheid.

Kyk hoe duidelik word die eon van die dood opgestel teenoor die eon van die geestelike lewe in die volgende verse:

Rom 8:5-8  Want die wat vleeslik is, bedink vleeslike dinge, maar die wat geestelik is, geestelike dinge.  6  Want wat die vlees bedink, is die dood, maar wat die Gees bedink, is lewe en vrede,  7  omdat wat die vlees bedink, vyandskap teen God is; want dit onderwerp hom nie aan die wet van God nie, want dit kan ook nie.  8  En die wat in die vlees is, kan God nie behaag nie.

Gal 5:17  want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie.

God gaan egter almal vernuwe om van die eerste eon te ontsnap deur die gees van ware lewe aan almal te skenk. Op hierdie stadium is dit die kerk in Christus wat nou deur die oordeelsproses gaan en vernuwe word om die geestelike dinge van God te begin ervaar. Ons almal “loop” eers volgens die eon van die bose wêreld waar die bose magte ons denke (“die lug” / die hemele) beinvloed:

Rom 12:2  En word nie aan hierdie wêreld [Grieks: “aiōn” = eon / tydperk] gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed [denke], sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.

Efes 2:2  waarin julle tevore gewandel het volgens die loop van hierdie wêreld [Grieks: “aiōn” = eon / tydperk] , volgens die owerste van die mag van die lug [hemel / denke], van die gees wat nou in die kinders van die ongehoorsaamheid werk.

Efes6:12  Want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie, maar teen die owerhede, teen die magte, teen die wêreldheersers van die duisternis van hierdie eeu, teen die bose geeste in die lug [Grieks “epouranios” = hemel / denke].

Hulle wie uit die ou bose eon verlos word deur die nuwe denke van Christus, sal nie weer die dood ken nie want in die tweede geestelike eon van lewe het die denke van Christus totaal oorgeneem – die ou aardse denke is vernietig. As die woord “ewigheid” in die volgende verse verskyn in die Afrkkaanse vertaling, verwys Jesus eintlik na die tweede geestelike eon waar sy ware lewe geskenk word:

Joh 11:26  en elkeen wat lewe en in My glo, sal nooit sterwe tot in ewigheid [Grieks: “aiōn” = eon]. Glo jy dit?

Joh 4:14  maar elkeen wat drink van die water wat Ek hom sal gee, sal in ewigheid [Grieks: “aiōn” = eon] nooit dors kry nie, maar die water wat Ek hom sal gee, sal in hom word ‘n fontein van water wat opspring tot in die ewige lewe.

Alle mense, alle geslagte wat binne die eerste eon gekom het, sal aan die einde van die eerste eon oorgeneem word na die volgende eon in gees waarin almal die Vader sal verheerlik!

Efes 3:20-21  En aan Hom wat mag het om te doen ver bo alles wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk,  21  aan Hom die heerlikheid in die gemeente in Christus Jesus deur alle geslagte tot in ewigheid [Grieks: “aiōn” = eon / tydperk]! Amen.

Dit is wat wedergeboorte eintlik beteken – ‘n aflegging van die vlees (die aardse eon / “die teenswoordige dinge”], en die opneem van die nuwe skepsel in gees (“die toekomstige dinge”]:

Joh 3:1-17  En daar was ‘n man uit die Fariseërs met die naam van Nikodémus, ‘n owerste van die Jode.  2  Hy het in die nag na Jesus gekom en vir Hom gesê: Rabbi, ons weet dat U ‘n leraar is wat van God gekom het, want niemand kan hierdie tekens doen wat U doen as God nie met hom is nie.  3  Jesus antwoord en sê vir hom: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie weer gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie.  4  Nikodémus sê vir Hom: Hoe kan ‘n mens as hy oud is, gebore word? Hy kan tog nie ‘n tweede keer in die skoot van sy moeder ingaan en gebore word nie?  5  Jesus antwoord: Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, as iemand nie gebore word uit water en Gees nie, kan hy in die koninkryk van God nie ingaan nie.  6  Wat uit die vlees gebore is, is vlees; en wat uit die Gees gebore is, is gees.  7  Moenie jou verwonder dat Ek vir jou gesê het, julle moet weer gebore word nie.  8  Die wind waai waar hy wil, en jy hoor sy geluid, maar jy weet nie vanwaar hy kom en waarheen hy gaan nie. So is elkeen wat uit die Gees gebore is.  9  Nikodémus antwoord en sê vir Hom: Hoe kan hierdie dinge gebeur?  10  Jesus antwoord en sê vir hom: Jy is die leraar van Israel en jy weet hierdie dinge nie?  11  Voorwaar, voorwaar Ek sê vir jou, ons spreek wat ons weet en ons getuig van wat ons gesien het, en julle neem ons getuienis nie aan nie.  12  As Ek julle van die aardse dinge vertel en julle nie glo nie, hoe sal julle glo as Ek julle van die hemelse vertel?  13  En niemand het opgevaar in die hemel nie, behalwe Hy wat uit die hemel neergedaal het, naamlik die Seun van die mens wat in die hemel is.  14  En soos Moses die slang in die woestyn verhoog het, so moet die Seun van die mens verhoog word,  15  sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  16  Want so lief het God die wêreld gehad, dat Hy sy eniggebore Seun gegee het, sodat elkeen wat in Hom glo, nie verlore mag gaan nie, maar die ewige lewe kan hê.  17  Want God het sy Seun in die wêreld gestuur nie om die wêreld te veroordeel nie, maar dat die wêreld deur Hom gered kan word.

God, die Vader, het Sy Seun gestuur in die wêreld om die wêreld TE RED, en Jesus gaan 100% suksesvol wees! Hy heers oor die twee oorkoepelende eons (die teenswoordige en die toekomstige dinge) en elke lewe van elke mens binne elkeen van hierdie twee eons (die “eons van die eons”) IS SYNE!!

Mat 28:18  En Jesus het nader gekom en met hulle gespreek en gesê: Aan My is gegee alle mag in die hemel en op aarde.

Jesus SAL almal in geestelike perfektheid aan die Vader voorstel. Hy sal Sy koninkryk oorhandig aan die Vader aan die einde van die tweede geestelike eon. Die gees van die Vader sal alles in almal wees! Daarom kan Paulus opreg verklaar dat die toekomstige dinge ook aan almal behoort! God sal inderdaad “alles in almal” wees:

1Kor 15:22-28  Want soos hulle almal in Adam sterwe [die eerste teenwoordige dinge], so sal hulle ook almal in Christus lewend gemaak word [die toekomstige dinge];  23  maar elkeen in sy eie orde: as eersteling Christus, daarna die wat aan Christus behoort by sy koms.  24  Daarna kom die einde, wanneer Hy die koninkryk aan God die Vader oorgee, as Hy alle heerskappy en alle gesag en mag vernietig het.  25  Want Hy moet as koning heers totdat Hy al sy vyande onder sy voete gestel het.  26  Die laaste vyand wat vernietig word, is die dood.  27  Want Hy het alles aan sy voete onderwerp, maar wanneer Hy sê dat alles onderwerp is, is dit duidelik dat Hy uitgesonder is wat alles aan Hom onderwerp het.  28  En wanneer alles aan Hom onderwerp is, dan sal ook die Seun self Hom onderwerp aan die Een wat alles aan Hom onderwerp het, sodat God alles in almal kan wees.

1Ti 2:3-6  Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser,  4  wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.  5  Want daar is een God en een Middelaar tussen God en die mense, die mens Christus Jesus,  6  wat Homself gegee het as ‘n losprys vir almal, as die getuienis op die regte tyd.

1Ti 4:9-10  Dit is ‘n betroubare woord en werd om ten volle aangeneem te word;  10  want hiervoor arbei ons ook en word ons gesmaad, omdat ons gehoop het op die lewende God wat ‘n behouder is van alle mense, insonderheid van die gelowiges.

About 4windkoinonia

Want let op julle roeping, broeders: julle is nie baie wyse na die vlees nie, nie baie magtiges, nie baie edeles nie; maar wat dwaas is by die wêreld, het God uitverkies om die wyse te beskaam; en wat swak is by die wêreld, het God uitverkies om wat sterk is, te beskaam; en wat onedel is by die wêreld en wat verag is, het God uitverkies, en wat niks is nie, om wat iets is, tot niet te maak, sodat geen vlees voor Hom sou roem nie. (1Kor 1:26-29)
This entry was posted in Lees eers hier. Bookmark the permalink.